top of page

Met wie se kalwers is jy besig om te ploeg? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 27 Mei 2022 gepubliseer


Een van die lekkerste bederwe van die afgelope paar maande, is dat ons ‘n avokado boom het wat begin vrug dra. Ons word gereeld bederf met ryp avo’s wat ons óf self eet, óf nou en dan uitdeel.

Ons ploeg wel eintlik met iemand anders se kalwers, want die boom is geplant lank voordat ons hier kom woon het. Dit geld vir die tuin ook; iemand anders het vir ure geswoeg en gesweet en sekerlik baie geld gespandeer, maar ons kan vandag die plante geniet en waardeer.

Is dit nie een van ons waardevolste bates nie? Dat wie ons is en wat ons doen tot voordeel van ander kan strek?

Ons is almal bekend met die woord ‘nalatenskap’, en ek glo dit is ons almal se wens dat iets van wie ons is en wat ons gedoen het sal voortleef die dag wanneer ons nie meer hier is nie. Tog is dit dikwels so dat ons nalatenskap in werking tree terwyl ons nog asemhaal! Dit is genadiglik nie nodig om eers ses voet onder die grond, of êrens in ‘n houertjie gebêre te wees voordat ander my menswees en bydrae kan geniet en waardeer nie.

Van die vrae waarmee die mens die meeste worstel, het te doen met ons roeping in hierdie wêreld. Mense het ‘n behoefte om te weet of dít wat hulle doen en mee besig is, die regte ding is en ‘n verskil maak. Ek het met die jare my idees rondom roeping so ‘n bietjie aangepas. Die gevaar is dat ons vir so lank op soek is na die perfekte legkaartstukkies om my legkaart te voltooi, dat die legkaart in elk geval nooit klaarkom nie!

Miskien is die meer belangrike vrae: “Is ek tans besig om iets betekenisvol na te laat? Wie word vandag deur my menswees, gawes en bydrae bevoordeel? In watter opsig het ek vandag waarde toegevoeg?”

Vat die nederige avokado boom as voorbeeld. ‘n Avokado boom het eintlik net twee take: om vrug te dra en om te vermeerder. Ek het nog nooit gehoor dat iemand die bestaansreg van ‘n avokado boom bevraagteken nie! Dalk kan ons by die avokado boom leer en nie ons bydrae op aarde te veel kompliseer nie.

Dink vandag vir ‘n oomblik na oor jou eie lewe, wie jy is, wat vir jou belangrik is, watter spesifieke gawes en eienskappe jy na die wêreld toe bring. Naas ons Skepper wat ons gevorm het en ons vandag nog inspireer, wie het almal ‘n rol gespeel in die mens wat jy tot vandag toe geword het? Dalk jou ouers, ‘n onderwyser, ‘n lektor, vriende, skrywers?

Dit is so ‘n groot voorreg om te kan weet: ander het gehelp om my te vorm, en vandag het ek die geleentheid om dit ook vir iemand anders te kan doen.

Comments


Recent Posts
bottom of page