top of page

Maak verandering jou bang?

(Oorspronklik geskryf 8 Mei 2020)

Een sin wat jy waarskynlik verskeie kere gehoor het die afgelope weke is: “Dinge sal nooit weer wees soos wat dit was nie.”

Miskien is jy soos ek. Miskien was jou eerste reaksie toe jy dié stelling hoor, dat jou keel so effens toe getrek het. Miskien het jy onmiddellik begin planne maak oor hoe jy gaan moet verander om te kan oorleef. Of dalk het jy jou laaste bietjie rooiwyn gedrink en in ‘n fetusposisie in jou bed gaan lê!

Kom ons dink vir ‘n paar sekondes logies oor die stelling oor verandering. Was dit nie maar eintlik nog altyd so gewees nie? 2010 het nie soos 2011 gelyk nie. 1933 het nie soos 1934 gelyk nie. En 2019 en 2020 sal beslis ook nie dieselfde lyk nie. Verandering is eintlik ‘n konstante. Ons kan dit altyd verwag. Mense hou dikwels meer van konstantheid as verandering, maar indien verandering ‘n konstante is, dan behoort ons eintlik ‘n bietjie meer te ontspan daaroor!

Toegegee; daar is beslis tye waar verandering meer ingrypend gebeur as ander tye. Dalk is ons grootste frustrasie tans dat ons nóú iets wil doen om so gou as moontlik dinge anders te doen, maar ons hande voel afgekap. Verandering hoef ons nie te oorweldig nie. Inteendeel; hoe meer nugter ons daaroor kan dink, hoe beter is ons kans om slim en sinvol te verander.

Mense se kontekste verskil. Daar is geen sewe-stap plan wat vir ons almal sinvol gaan wees nie, maar hier is ‘n paar riglyne wat jou moontlik kan help:

- Wees bewus van wat binne jou beheer is en doen iets daaromtrent. Jy kan jou roetine kies, watter stof jy inneem (media, kos, geselskap, bitterbekke op sosiale media), hoe jy optree en uitreik na mense.

- Behou die perspektief en dink aan mense wat saam met jou bly in Suid-Afrika. My en jou frustrasies en uitdagings is dalk kinderspeletjies in vergelyking met ander s’n.

- Jy mag maar rus. Dalk het dit tyd geword om, indien jy van die huis af werk, vir jouself werksure by jou huis uit te stippel?

- Onthou jou professionele grense! Net omdat jou werksopset verander het, beteken nie dat jy nou enige tyd van die nag met jou kollegas of werknemers hoef te praat nie!

- Maak seker die motief vir hoekom jy werk is reg. As jy werk vanuit jou vrees dat jy jou werk gaan verloor, gaan jy waarskynlik óf jouself morsdood werk óf so ‘n motief gaan jou produktiwiteit en kreatiwiteit as werker verlam.

- Sommige besighede en organisasies vergader nou meer as ooit tevore! Indien jy ‘n virtuele vergadering wil reël, probeer om te onderskei: Is dit regtig nodig? Hoe lank behoort hierdie vergadering te wees? Wat wil ons bereik met hierdie vergadering?

- Onthou die persoonlike element. Jy het waarskynlik al beleef dat dit moeiliker is om medemenslik te wees oor ‘n skerm of met ‘n masker op jou gesig! Doen daarom intensioneel moeite daarmee.

- Enige virtuele vergadering mag beslis in jou slaapbroek gedoen word!

En laastens: hê baie genade met jouself en ander.



Comments


Recent Posts
bottom of page