top of page

Luister, luister, wie daar fluister... (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 25 Februarie 2022 gepubliseer


Soveel mense, soveel menings. In ons virtuele wêreld, lug mense hul mening, of ons nou daarvoor gevra het of nie!

In my en Danél se ouerskapsreis het ons dit veral besef: “Bad jou baba so min as moontlik aan die begin… hoekom word baba nie gebad nie?...wanneer gaan jul vir hom begin tee gee?...hier is die regte manier om jou kind aan vaste kos bekend te stel…” Mense se bedoelings is goed, maar ons het vinnig besef: jy kan nie na almal luister nie.

Ek onthou een insident baie goed. Ons was by ‘The Waffle House’ in Ramsgate. Ruach was maar nog ‘n klein babatjie, en ons nuwe ouers wat ons bes probeer het om hom aan die lewe te hou! ‘n Pensioenaris-paartjie het naby ons gesit en hierdie twee jong ouers dopgehou. Ek is nie seker of die tannie so hard gepraat het omdat sy hardhorend was, en of sy net regtig nie omgegee het nie, maar die kommentaar het gevloei: “Ek kan nie glo hulle sit die arme ding in so ‘n ‘carrier’ nie…kyk hoe sit sy ma ‘n doek oor sy kop…die kind gaan versmoor…” Ons wafels het soos karton geproe en ons is so vinnig as wat ons klaar geëet het daar weg.

Na wie luister jy? Hoe kies jy na wie jy gaan luister? Dit is regtig ‘n fyn onderskeidingsproses, want die mense wat kies om die naaste aan jou te kom staan, is nie noodwendig dié na wie jy hoef fyn te luister nie.

Ons temperamente speel ook dikwels ‘n groot rol in hoe ons kies om luister, en na wié. Vir sommige van ons is die goedkeuring van mense ‘n belangrike ding. Hierdie persone luister soms na te veel mense, en doen soms dinge op maniere wat hul nie eintlik wou (of moes) doen nie. Want om die vrede te bewaar is vir hul belangrik. Ander mense wil weer so onafhanklik funksioneer dat hul na amper niemand wil luister nie. Om in beheer te wees, en hul eie gedagtes en werkswyse is vir hul so belangrik, dat hul nie genoeg mense toelaat om 'n alternatiewe stem in hul lewens te wees nie.

Daar is veral een aspek waar ons moet fyn luister, en baie versigtig moet kies na wie ons luister. Hierdie luister gaan oor ons waarde. Dit is lekker om te hoor dat ons gewaardeer en geliefd is, dat mense ons raaksien en dink dat ons oulik is. Maar ons kan nie naarstigtelik agter elke persoon aanloop op soek na ‘n goedkoop kompliment nie. Die sirkel van mense wat ons waarde bevestig behoort klein te wees, en jou Skepper moet altyd in die sentrum van jou sirkel staan. Sy stem praat gewoonlik nie die hardste nie, maar dit moet altyd die swaarste weeg.

In jou pogings om al die gedagtes, opinies en raad van mense te weeg en te sif, soek mense wat jy kan vertrou, wat jou graag wil sien groei, en wat nie noodwendig net sê wat jy graag wil hoor nie. Hou hulle naby jou oor en jou hart.

Hozzászólások


Recent Posts
bottom of page