top of page

Liggies wat 'n verskil kan maak (JZ de Jager)

Oorspronklik 18 April 2022 gepubliseer


Ons was so klein rukkie terug vir ‘n paar dae by ‘n vakansiebestemming. Die eerste aand sit ons vier op die stoep, en dit is al eintlik verby die kinders se slaaptyd. Maar omdat dit so mooi was en ons eers laat kon ingaan het ons maar die meeste gemaak van die tyd. Dit was alreeds donker en ons was op die punt om in te gaan en ons roetine vir die aand te begin toe ons iets sien wat ons baie, baie lanklaas gesien het – vuurvliegies.

Ek weet nie wanneer laas jy vuurvliegies gesien het nie, maar dit is nogal ‘n mooi prentjie. Die een oomblik is daar niks buite nie en die volgende oomblik sien mens net hoe hierdie klein goggatjies uitkom en begin beweeg. Hulle vlieg oor die water; hulle vlieg heen en weer; hulle land op die grond en beweeg rond. Daar was selfs ‘n keer wat ons ‘n vuurvliegie kon optel en hom van nader kon bekyk. Marissa wou ook baie graag een vang en hom hou, maar nadat ons baie mooi verduidelik het dat hulle buite wil wees en nie in ‘n hokkie nie het sy darem daai enetjie ook laat gaan.

Ek sal myself glad nie uitmaak as ‘n kenner van goggas nie en ek het ook nie gaan oplees oor die rol van ‘n vuurvliegie in die ekosisteem of wat hulle habitat is of wat hulle eet of enigiets nie, maar ek het ‘n paar observasies gemaak.

Die eerste ding wat my bygeval het van vuurvliegies is dat hulle baie mooi is van ver af, wanneer mens eintlik net ‘n liggie kan sien. Wanneer jy een vang en sy liggie glans nie, dan is dit nie ‘n vreeslike mooi goggatjie nie.

Die tweede ding wat ek raak gesien het is dat hulle eintlik maklike prooi is. Hier en daar sien mens ‘n vuurvliegie die tog aandurf oor die dam. Aanvanklik vlieg hulle hoog, later beweeg hulle al nader aan die water en soms, wanneer hulle te naby aan die water is, vang ‘n vissie hulle. Mens kan nie mooi in die donker sien wat gebeur nie, maar die een oomblik sien jy die liggie en die volgende oomblik hoor mens iets in die water en dan is die liggie weg.

Die laaste ding wat my bygeval het van die vuurvliegies is dat ten spyte daarvan dat hulle ‘n mooi liggie het wat glans en skitter is daar niemand wat hulle volg nie. Dit is nie asof al die ander goggas in die lug al agter hulle aanvlieg en daar skielik geen meer muskiete of motte is wat rondom mens vlieg nie. Hulle beweeg rond net soos enige ander gogga in die donker, maar as daar ‘n groot lig aangesit word dan beweeg almal na daardie lig toe.

Hierdie dinge wat ek raakgesien het in die vuurvliegies het iets in my wakker gemaak toe ek die ander dag weer Johannes 3:19-21 hoor – “…21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is…”

Ons as gelowiges kan baie mooi lyk van buite af, maar wat sien mense in ons of wat hoor mense by ons as hulle naby ons beweeg en ons hoor praat en ons sien optree?

‘n Mens kan baie maklik dink dat hulle nie iemand naby hulle nodig het om ‘n geestelike pad mee te stap nie. Dit is egter so belangrik om nie geïsoleerd te leef nie. Dit is belangrik om mense om jou te hê wat jou kan ondersteun en bemoedig en te help om te bly op die pad wat veilig is om te stap. Want as jy nie iemand om jou het nie dan kan jy ook maklik prooi word van ‘n donker en wrede wêreld.

Ons as gelowiges het die verantwoordelikheid om Jesus se Lig wat in ons is uit te straal. Ek en jy hoef nie navolgers te hê nie. Al wat ons hoef te doen is om met ons lig te wys na die Lig wat ons volg.

Mag ons altyd aanhou om naby die Here te leef en mag ons lewe ander inspireer om ook Sy Lig raak te sien en te volg.

Comments


Recent Posts
bottom of page