top of page

Lig en goedheid in 'n donker wêreld

Oorspronklik 8 September 2023 gepubliseer

Hoe lééf ons in ‘n gebroke wêreld?

Ek is seker ek hoef niemand te oortuig dat die wêreld waarin ons leef nie gesond is nie. Tog leef ons met dié heilige paradoks: alhoewel alles nie wel is nie, is daar oorgenoeg spore van lig en goedheid te vinde as ons die moeite doen om dit raak te sien.

Die fliek ‘Roepman’, wat jare gelede bekendgestel is en ‘n groot indruk op my gemaak het, se subtitel was: ‘Onskuld is iets wat jy eers leer ken as jy dit kwyt is.’ Hoe ouer ons word, hoe meer besef ons dat die wêreld nie altyd regverdig of mooi saam speel nie.

Daarom is dit sekerlik die meeste ouers se grootste wens dat ons ons kinders se onskuld sal kan beskerm, ten minste vir so lank as moontlik.

Ek wonder waarom Jesus ‘n spesiale plekkie vir kinders gehad het (en sekerlik steeds het) terwyl Hy op aarde geleef het? Waarom het Jesus die dissipels aangeraai om nié die kinders te verhinder om na Hom toe te kom nie? Behalwe vir die feit dat Jesus die kindertjies wóú sëën, is ek seker dat Jesus dit ook geniet het om met die kinders kontak te hê, om hulle dop te hou en met hulle te gesels. Ek glo dat Jesus in die gesigte van kinders ook die spore van lig en goedheid raakgesien het, spore van die Skepper.



Soos wat Jesus sy dissipels aangemoedig het om die kinders na hom toe te laat kom, so is daar vir ons ‘n belangrike waarheid hierin opgesluit: ons kinders moet altyd die vrymoedigheid hê om na ons toe te kom. Vrees vir oordeel of oorreaksie moenie ons kinders verhinder nie.

Ek het onlangs hierdie woorde op sosiale media raakgelees van Ann Voskamp: “Shame dies when stories are told in safe places.” Ons kinders moet altyd voel dat hulle stories met ons gedeel kan word; ook die stories van seer en teleurstelling, stories waar onskuld aangetas is.

In ons pogings om ons kinders te beskerm teen die wêreld is dit eintlik verfrissend om te besef: ons kinders leer ons in ‘n groot mate hoe om ‘n oog vir die lig en goedheid te ontwikkel. Kinders het genadiglik nog nie al die bagasie wat ons as volwassenes met ons saamdra nie: ongemaklike verhoudings, spanning, ‘n bewussyn van die uitdagings wat die wêreld in die gesig staar.

Ek het onlangs iemand hoor sê dat ons, met al die inligting tot ons beskikking oor wat om elke hoek en draai van die wêreld gebeur, ons op die terrein van God bevind. Dalk is ons toe níé geskep om alles te weet nie? Dit maak ons soms neerslagtig en pessimisties, terwyl ek glo dat God ons geskep het om in verwondering te wees oor die klein dingetjies, net soos ‘n kind.

Hoe lééf ons in ‘n gebroke wêreld? As dit so ‘n maklike vraag was het ons almal dit al lankal toegepas! Tog dink ek twee dinge kan ons help: ons skep veilige ruimtes waar mense hulle stories kan deel sonder vrees, en ons gun onsself geleenthede om in verwondering te wees.

Speel saam, sien iets moois raak, doen iets saam wat lekker is, lag uit die diepste deel van jou maag, wees goed vir iemand. Lig en goedheid is so naby soos ons keuse om dit raak te sien.

コメント


Recent Posts
bottom of page