top of page

Liewe ouer (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 25 Junie 2021 gepubliseer


Liewe ouer,

Die afgelope jaar of wat het aan jou eise gestel wat jy nooit sou kon voorsien nie. Wie sou kon dink dat jou klein kindjie, wat nou die dag nog nie kon loop nie, sommer vanself hul handjies sal begin uitsteek sodat hul hande gesaniteer kan word by ‘n winkel? As iemand voorheen vir jou gesê het dat jy sou moes planne beraam, want jou kind gaan net elke tweede dag skoolgaan, sou jy dalk sê dis eenvoudig nie prakties moontlik nie. Maar jy het ‘n plan gemaak.

Jy moes leer om saam met jou kind verlies op verlies te verwerk. En dit terwyl jy jou eie verliese beleef het.

En, ja, jy moes met jou kind gesels oor die dood… al het jy nie die vaagste benul gehad hoe om jou woorde te kies nie. Sê nou maar net jy sou iets sê wat meer verwarring bring as helderheid? Maar jy het gesels, en dit was goed genoeg.

Kan ek vandag vir jou ‘n paar klippies vir jou broeksak gee?

Speel saam met jou kind. Speel bied ‘n geleentheid vir gesonde ontvlugting; vir jou kind, maar ook sommer vir jou. Toets jou volwasse grense vir ‘n slag en klim handeviervoet in jou kind se speel-wêreld in! Jou kind se verbeelding is ‘n kragtigse stuk gereedskap wat die Here spesiaal vir hul (en vir jou!) gegee het.

Vertel vir jou kind van die hemel. Jy hoef nie alles te weet van die hemel, om te weet dat elke gelowige daarvoor bestem is nie. Leer jou kind dat die hemel die aarde by verre oortref, want dit is waar Jesus is, en Jesus kan nie wag om ons elkeen daar te ontvang nie. Vertel vir jou kind dat dié mense wat nou in die hemel is, alhoewel ons hul baie mis, baie gelukkig is.

Vreugde is aansteeklik! As ouers is ek en jy die geestelike en emosionele termostate van ons huis. Doen intensioneel moeite om jou vreugde en humor met jou kinders te deel. As grappies jou ding is, deel dit met jou gesin. Al gaan jou tiener jou dalk laat verstaan dat jy hoegenaamd nie snaaks is nie, moenie stop nie! Wys vir jou kinders, op watter manier ook al, dat die vreugde van die Here in jou hart, en ook in jou huis woon.

Hou moed, liewe ouer! Die Here het jou toegerus vir ‘n tyd soos hierdie.

Comments


Recent Posts
bottom of page