top of page

Lang dae, kort jare (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 13 Junie gepubliseer

“The days are long but the years are short.” Google sê dat dié woorde aan Gretchen Rubin toegeskryf kan word. Ek het dit die eerste keer gehoor in ‘n gesprek wat Andy en Sandra Stanley oor ouerskap gevoer het.

Ek kan aan ‘n spesifieke dag terugdink, omtrent ‘n jaar gelede, wat die dag lank gevoel het! Ons was met vakansie in die wildtuin by Shingwedzi ruskamp (een van ons gunsteling plekke!). Ruach, ons seuntjie, was toe twee jaar oud en Danél was toe omtrent sewe maande swanger met Anneh, ons dogtertjie. Ek onthou een spesifieke dag waar ek en Danél gesels het oor my nukkerigheid en waarom ek ‘n bietjie ‘af’ sou wees, terwyl ons in my gunsteling plek op aarde is. Daardie aand, nadat ons seuntjie in die bed was en die skottelgoed klaar gewas, het ons albei erken: dit was ‘n lang, moeisame dag! Ons het toe besef: vakansies gaan vir die volgende ruk anders lyk. Vakansies gaan vir nou meer oor ons kinders moet gaan as oor ons. Ons gaan ons verwagtings moet aanpas en ‘n paar praktiese veranderings maak.



Almal van ons het ‘lang’ dae; dae wat net eenvoudig nie verloop soos wat ons gehoop of beplan het nie. Op daardie dae is dit goed om vir ‘n oomblik te reflekteer en nuuskierig te bly, te probeer verstaan waarom vandag ‘lank’ voel, of ek die emosie(s) wat ek beleef ‘n naam kan gee. Dit is juis daardie dae wat ons die geleentheid bied om na te dink oor ons verwagtings, om weer voorraadopname te hou en seker te maak wat nou vir ons belangrik is en prioriteit behoort te wees. Op ‘lang’ dae is dit goed om onsself in die oomblik in te nooi, die oomblik te erken vir wat dit is en nié noodwendig daarvan te probeer ontvlug nie.

Want: alhoewel die dae soms lank is, is die jare inderdaad kort. Ek kan amper nie dink dat ‘n jaar verby is sedert ons wildtuin vakansie nie. Ons seuntjie is drie jaar oud en alhoewel daar vandag nog ‘lang’ dae is, het daar so ontsettend baie in ‘n jaar se tyd in sy kort lewetjie gebeur en verander. Ons dogtertjie is 10 maande oud, en ‘n jaar gelede het ons nog nie eens geweet hoe haar gesiggie sou lyk nie!

Daar is een spesifieke teksvers wat my herinner om elke dag as ‘n dag van redding, hoop en herstel te sien:

“Op presies die regte oomblik het Ek jou hulpkreet gehoor. Daardie dag toe jy My bitter nodig gehad het, het Ek jou gehelp.” Wel, dit is nou weer sulke tyd. God se tyd van redding is hier. Vandag is die dag! Moenie hierdie geleentheid deur julle vingers laat glip nie. (2 Korintiërs 6:2, Die Boodskap)

Of die dag ‘lank’ of ‘kort’ voel, elke dag is ‘n geleentheid wat in ons hande geplaas word! Koop die dag uit, reflekteer oor die dag wat aan jou geskenk is, lê die dag se sleg by die Here se voete neer en eer die Here vir nog ‘n dag wat by jou kort lewe gevoeg is!

Comments


Recent Posts
bottom of page