top of page

Kyk ons mooi genoeg na mekaar? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 10 Junie 2022 gepubliseer


Onthou jy in die onlangse verlede toe ons bekommerd was oor die welstand van ons kinders omdat hulle (soos ons) moes isoleer? Dit het beslis ‘n effek gehad.

As ons die statistieke van tienerdepressie en selfdood tans dophou, dan moet ons onthou: die krake het dalk nie tóé duidelik gewys nie, maar dit is juis nóú en in die toekoms wat ons waaksaam moet wees en oplet na die kinders in ons eie huise en die gemeenskap.

Ek wil die situasie waarin sommige kinders tans is, vergelyk met ‘n atleet wat as gevolg van ‘n besering vir ‘n tyd lank glad nie kon oefen nie (grendeltyd). Hierdie atleet is gedryf om, so gou soos wat sy weer kon beweeg, so hard en intens as moontlik te oefen (die afgelope 6 of wat maande). En die resultaat: ‘n uitgebrande mens wat haarself nog erger seergemaak het as voorheen.

Ouer, onderwyser, afrigter, jeugleier: dit is nou ons werk om ons kinders en tieners te help bestuur.

Ons hét nou die vryheid om aan ‘n klomp aktiwiteite deel te neem, maar dit beteken nie dat jou kind alles hoef te doen nie. Inteendeel, dit stuur af op ‘n uitgebrande kind.

Ons móét onsself herinner dat ons steeds in die stuiptrekkings van ‘n pandemie leef, en dat elkeen van ons, in ‘n mindere of meerdere mate, verlies en trauma beleef het. Die ekonomiese, sosiale en sielkundige effek van wat ons beleef het, gaan nog vir ‘n lang tyd met ons wees, en ons het die verantwoordelikheid om die kinders rondom ons te versorg en te monitor.

In ‘n wêreld waar ons probeer opvang vir alles wat ons destyds gemis het, bly die mees belangrike, maar nie-dringende dinge agterweë. Die samelewing gaan jou nie herinner om aandag hieraan te skenk nie. Ons moet onsself gereeld die vraag afvra: watter lewe wil ons as gemeenskap en gesinne hê? Wat is dit wat ons uit die lewe saam wil put? En dán bepaal ons prioriteite en ons hou mekaar verantwoordbaar daarvoor.

Die dinge wat in die verlede belangrik was het nie verander nie. Eet ons saam aan tafel? Is ons jaloers op die tyd wat ons as gesin saam het? Het ons met mekaar die belangrikste gesprekke oor hoe dit met ons gemoed gaan? Rus ons? Slaap ons genoeg?

Ek het onlangs vir ‘n paar leiers van ‘n plaaslike skool gevra hoe hulle gemiddelde slaapure per aand lyk. Hulle antwoord was: om en by vier ure. Behalwe vir ‘n klein groepie as uitsondering, sê die navorsing vir ons dat die meeste van ons minstens 7 tot 9 ure per aand moet slaap. Waarop stuur ons af as ons ons kinders se swak slaappatrone maar ongesiens laat verbygaan? Ons kan ‘Bioplus’ drink tot ons dronk is, maar dit gaan nie ons probleem oplos nie!

Andy Stanley sê oor ons verhoudings met ons kinders: “The days seem long, but the years are short”. Die tyd wat ons saam met ons kinders het, is kort. Help jou kind. Bemoedig jou kind. Wees ‘n klankbord vir jou kind. Doen die belangrikste dinge saam met jou kind.

Daar is absoluut niks fout met ‘n kultuur van uitnemendheid nie. Inteendeel, dit is ‘n baie noodsaaklike beginsel wat elke mens behoort na te streef. Dalk moet ons net weer mooi gaan besin oor hoe uitnemendheid vir ons lyk en wat dit vir ons beteken. As ons uitnemendheid najaag, maar ons het verwonde kinders, wat het ons regtig bereik?

Opmerkingen


Recent Posts
bottom of page