top of page

Kyk mooi. En kyk dan nog 'n keer. (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 12 November 2021 gepubliseer.


Ek sien nou die dag, terwyl ek bestuur, ‘n man wat herwinningsmateriaal met sy waentjie bymekaarmaak. Terwyl ek hom uit die hoek van my oog dophou, sien ek hoe hy rommel by ‘n heuwel afgooi. Ek besluit toe dat ek nie hierdie keer maar net gaan verbyry nie, en ek stop om hom te vra hoekom hy nie maar eerder die rommel in die asblik kan teruggooi nie.

Toe ek buite my kar staan, sien ek toe eers sy vriend wat doer onder staan en die verfblikke wat hy afgooi, bymekaarmaak. In sy gebroke Engels verduidelik hy vir my dat die ‘rommel’ wat hy daar afgooi, eers gewas moet word, sodat hy dit kan herwin.

Ek is bly dat ek gestop het, en mooi gekyk het.

Dit het al ‘n paar keer in my lewe gebeur dat ek ná my aanvanklike gedagte dat die tyd reg is vir ‘n konfliksituasie, met eier op my gesig moes wegstap. Ek het nie die situasie of die persoon reg gelees nie, en nie al die nodige inligting tot my beskikking gehad nie. Ek kon net ‘n klein deel van die prentjie raaksien.

‘n Vriend vertel nou die dag van ‘n ware verhaal van ‘n seekoei wat amok gemaak het in die gemeenskap, en mense en hul voertuie gereeld wou aanval. Na ‘n gesprek word daar besluit om ter wille van almal se veiligheid, die seekoei van kant te maak. Toe die mense na sy dood die seekoei bekyk, besef die mense dat die seekoei ‘n lang spyker in sy een voet gehad het. Sy pyn het sy gedrag veroorsaak.

Dit is altyd wys om enige persoon of situasie mooi te bekyk. En dan nog ‘n keer mooi te kyk. Ek en jy kyk maar altyd met ons eie filters; ons eie (dikwels onvolledige) perspektief.

Ons moet ook ons kinders leer om dieselfde te doen, en die beste plek om te oefen, is wanneer daar ‘n ongelukkigheid oor ‘n gesagsfiguur soos ‘n onderwyser of ‘n afrigter is. Help jou kind om die saak van verskeie kante af te bekyk. Verstaan jou kind die bepaalde uitdagings waarmee die persoon haar/sy werk moet doen? Jy doen jouself en jou kind ‘n groot guns deur nie sommer op die eerste oogopslag ‘n waarde-oordeel te vel met jou mond nie.

Die Samaritaanse vrou by die put se lewe was nooit weer dieselfde nie; want vir eens het ‘n onwaarskynlike gekies om haar raak te sien. Ons kan leer by Jesus.


Comments


Recent Posts
bottom of page