top of page

Klein verandering, groot verskil (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 13 Mei 2022 gepubliseer


Ek moes nou die oggend my vrou by die skool gaan aflaai. Daar is altyd ten minste een bos sleutels, rekenaar of selfoon verlore in ons huis, en daardie oggend was dit my vrou se karsleutels se beurt!

Ons was laat en moes saam met ‘n baie lang ry karre wag by die verkeerslig by die skool se ingang. Ek het toe omtrent so sewe minute gehad om die kar agter my te bestudeer. ‘n Ma was besig om vir sewe minute lank haar seun die kop te was. Dalk het hy gedrentel en was dit die rede dat sy in verkeer moes vassit, dalk het hy iets veel erger aangevang. Die klein bietjie wat ek al van tieners geleer het, is dat jy nie tot jou kind deurdring deur hulle blink te praat of te skel nie.

Daarna het ek die ouers in die voertuie rondom my begin dophou. Sommige het haastig gelyk, ander het lekker gesels met hulle kinders, en daar was ander wat tjoepstil was terwyl hulle kinders op hulle fone met iemand anders gesels het.

Dit het my laat dink oor klein aanpassings.

In die sportwêreld kan ‘n klein aanpassing die wêreld se verskil maak. Vra vir enige gholfspeler, krieketspeler of stelskopper. ‘n Vinger wat anders vashou, of ‘n splitsekonde vroeër of later se reaksie is die verskil tussen gemiddelde en uitstekende spelpeil.

Natuurlik geld dieselfde vir jou sielkundige ingesteldheid. Op die hoogste vlak, kan ‘n aanpassing in hoe ek dink oor die tegniek wat ek toepas, of my benadering tot die spel, die verskil wees tussen wen en verloor.

In my rol as ouer, kollega, huweliksmaat of selfs vreemdeling vir iemand, kan ‘n baie klein aanpassing maak dat die resultaat handomkeer anders lyk. Ons het nie altyd ‘n uur of drie nodig om verandering teweeg te bring nie; drie intensionele minute kan ook ‘n groot verskil maak.

Dit gebeur soms dat mense my baie dringend wil sien oor ‘n krisis wat onmiddellik opgelos moet word. Die waarheid is: baie krisisse kom al jare lank. Iets het nie onmiddellik ‘n krisis geword nie. Dit is omdat ons vir maande of jare lank klein aanpassinkies oorgesien het, dat die bom uiteindelik bars.

Net so bewerkstellig ons groei deur op ‘n gereelde basis met die nodige intensie en kreatiwiteit onsself daaraan te herinner om iets ‘n bietjie beter te doen as gister. As my rit saam met my tiener skool toe vandag soos ‘n oorlogsone gevoel het, het ek môre die geleentheid om weer te probeer, dalk te dink aan ‘n kreatiewe vraag om te vra, ‘n waarheid oor my kind te bevestig of iets te kry wat gaan help om met my kind te bind.

Daar is sekere weke of dae waar jy ‘n medalje verdien as almal in jou huis se maag vol was, hulle lywe skoon was en hulle by hulle verpligtinge uitgekom het. Soms is die eise wat die lewe aan ons stel groot genoeg dat ons maar net die 'basics' goed genoeg kan doen. Daar is wel ook dae waar ons die geleentheid moet aangryp om iets wat gemiddeld is, beter te maak deur ‘n klein aanpassing.

Is dit nie dalk hoekom Jesus die Koninkryk, sy nuwe wêreld wat Hy kom stig het, met suurdeeg vergelyk nie? Suurdeeg is ‘n klein bestanddeel, wat ‘n baie groot werk verrig.

Vergeet van die ‘Superpa of -Ma’ wat jy so beny, vergeet van die vriend of kollega wat alles so maklik laat lyk. Fokus op die Een wat die goeie werk in jou begin het, en vra Hom om jou te help. Hy kan met iets baie klein, berge versit.

Comments


Recent Posts
bottom of page