top of page

Kan dit so eenvoudig wees? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 24 Junie 2022 gepubliseer


Het jy al ooit gewens jy kan êrens doer bo op ‘n berg bly, in ‘n piepklein huisie, met dalk ‘n kat en ‘n ketel? Niks meer nie en niks minder nie. Geen verantwoordelikhede nie, geen geraas nie, so min as moontlik om op te pas en te bestuur. Vir sommige mense klink dit na ‘n verskriklike saai lewe, en ander sal dit dalk ernstig oorweeg!

Wanneer mense dink oor ‘n lewe van eenvoud, is dit soms ‘n soortgelyke prentjie wat in ons gedagtes opkom. Die probleem met so ‘n prentjie van eenvoud, is dat dit geheel en al onbereikbaar is vir die meeste mense. So ‘n prentjie is dalk eerder ‘n lewe van isolasie. Tog, is ‘n lewe van eenvoud iets wat baie mense begeer. Ons wil graag eenvoudig leef, lewens lei met min drama, ‘n ligter lewe, ‘n lewe waar die laste wat ons moet dra ons nie oorweldig nie.

Vandag begin die skoolvakansie vir die meeste kinders. Het jy al, soos baie ander, gewens en gebid dat die vakansie tog nou net kan aanbreek? Dis asof jou gedagtes en lyf wil vooruit beweeg na ‘n bestemming ver weg van jou normale lewe. Wanneer ons leer om in eenvoud te leef, is die vakansie die kersie op die koek, en nie ‘n reddingsboei nie.

Hoe lyk ‘n lewe van eenvoud? Die belangrikste dinge bly die belangrikste, en hierdie dinge geniet die hoogste prioriteit in my lewe. Die teendeel? Ons lewens raak swaar en veeleisend wanneer ons met die verloop van tyd gekies het vir ‘n lewe van te veel van die dinge wat nié regtig veronderstel is om vir ons so belangrik te wees nie.

Hoe onderskei ons dan wat is veronderstel om die belangrikste vir my en my gesin te wees? Net voordat Jesus die bekende woorde gesê het: “Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is…” bid Hy en sê vir die Vader dankie dat Hy hierdie dinge, die dinge wat handel oor sy nuwe wêreld, aan eenvoudiges bekend gemaak het. ‘n Lewe van eenvoud, as deel van God se nuwe wêreld is nie veronderstel om onbereikbaar en onverstaanbaar vir ons te wees nie. Dit is eintlik baie… eenvoudig.

Een maatstaf om te onderskei of my lewe die geur van eenvoud dra, is om dit te meet aan die volgende woorde in Filippense 4:8-9: “Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel.”

‘n Lewe van eenvoud is volgens Richard Foster ‘n genade en ‘n dissipline. Ons ontvang iets wat nie vanuit onsself kom nie, as ‘n gratis geskenk: die vermoë om ‘n lewe te leef wat fokus op dit wat saakmaak. Dit is die genade. Hierdie gratis geskenk pas ons elke dag toe met ons aardse lywe. Ons kies met ons verstand en ons lyf om ons lewens so in te rig dat dit gefokus en sinvol is. En dan herhaal ons hierdie ingesteldheid môre, en die dag daarna en die dag na daardie dag. Wanneer ons terugval in ‘n swaar lewe, dan ontvang ons van voor af die genade om weer te begin.

Dit klink aanloklik om doer ver ‘n ligte lewe te leef. Outentieke mense kry dit al hoe meer reg om in eenvoud te leef tussen die geroesemoes.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page