top of page

Jou tweede helfte strategie (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 8 Julie gepubliseer


Halftyd is verby!

Kan jy dink dat ons al in die tweede helfte van die jaar trek? Vir dié van ons wat in skoolkwartale dink en funksioneer, is die derde kwartaal hier!

Die derde kwartaal is gewoonlik die langste kwartaal en dit is ook dikwels die kwartaal waar die wiele soms pap raak, gemoedere hoog loop en moedeloosheid ‘n mens bekruip soos ‘n dief in die nag!

Ek het die naweek tydens die Springbokke se wedstryd teen Ierland iets beleef wat vir my ‘n goeie bloudruk is vir hoe om hierdie kwartaal aan te pak!

Die bekende aktrise en sangeres, KB Motsilanyane, het ‘n pragtige weergawe van ons volkslied gesing. Die geheim (dink ek) van haar poging Saterdag was die einde: sy het die hoogtepunt van die lied aan almal oorgelaat om saam te sing.



Dink vir ‘n oomblik saam met my soos ‘n ‘performer’… dit is sekerlik baie kunstenaars se wens om die volkslied by ‘n groot byeenkoms soos ‘n Springbok rugbywedstryd te sing. Ek kan myself indink hoe ‘n kunstenaar romantiseer oor daardie dag… ek kan ook dink dat die einde van die lied vir elkeen die belangrikste deel is! Wie weet, dalk was dit onbeplan, dalk het KB nie kans gesien vir die hoë noot nie, maar hoe dit ook al sy, dit was die perfekte einde!

Halftyd is verby, en ons strategie en benadering oor hoe ons die res van die jaar wil leef, kan dalk net deurslaggewend wees. Dalk bewerkstellig ons benadering ‘n deurbraak in ‘n belangrike verhouding, dalk verander dit jou werksbevrediging, dalk beteken jou benadering iets vir iemand wat omgee of inspirasie nodig het.

Kom ons leer by KB en vat mense met ons saam. Kom ons soek vir maniere hoe ons ander kan bemoedig en bemagtig om ook deel te wees van iets wat groter as hulleself is. Wanneer dit wat op jou voorgrond is jou wil oorweldig, gaan soek vir dié wat rondom jou is, reik uit na iemand anders, betrek iemand om te help dra aan dit wat dalk vir jou te swaar voel om alleen te dra, al kan die persoon net saam met jou bid!

‘n Paar praktiese gedagtes oor hoe ons mense saam met ons vat, en idees vir hoe om die tweede helfte aan te pak:

- Eet saam aan tafel!

Beplan geleenthede waar jou gesin almal saam kan wees. ‘n Paar keer per week is beter as glad nie. Die navorsing is duidelik: hoe meer ons saam eet en gesels en lag, hoe beter funksioneer ons almal op ons eie en saam as gesin.

- Take se einddoel is verhoudings.

As ‘n taak of ‘n ‘deadline’ jou begin oorweldig, probeer dink aan die verhouding(s) rondom die taak: op watter manier help hierdie taak om verhoudings goed of beter te maak?

- Klein fokusareas of aanpassing maak ‘n groot verskil.

In verskeie sporte maak ‘n eenvoudige verandering aan tegniek ‘n groot verskil. Watter klein, eenvoudige verandering gaan jou lewe en funksionering aansienlik verbeter?

- Stilte is ‘n ‘game-changer’.

Martin Luther het hierdie bekende woorde gesê: 'I have so much to do that I shall spend the first three hours in prayer.’ Hoe besiger ons raak, hoe meer het ons stilte nodig. As jy nie drie ure kan bekostig nie, identifiseer drie keer per dag waar jy vir drie minute kan stil raak. Soms is dit al wat ons nodig het om nié soos ‘n benoude eend rond te trap in die water nie… ‘n bietjie stilte.

Mag jou tweede helfte jou stoutste verwagtings oortref!

Kommentare


Recent Posts
bottom of page