top of page

Ja of Nee... hoe moeilik kan dit nou wees? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 22 Augustus 2024 gepubliseer


Verbeel jou ‘n wêreld waar die besluite wat jy per dag moes neem, almal saam teen 09:00 in die oggend in ‘n mooi boksie op jou tafel beland, dat die besluite eenvoudige antwoorde of aksies vereis en dat jou besluite tot hoogstens drie besluite per dag beperk word… Salig!

Die meerderheid van ons het moeilike besluite om op ‘n daaglikse basis te neem: sal ek vandag my kind dokter toe vat of nog self probeer dokter, waarvoor sê ek ja en waarvoor nee in my skedule, hoe los ek hierdie konflik op, sal ek vandag kos koop en huur los of andersom, hoe benader ek as ouer my kind se ongelukkigheid by die skool, hoe hanteer ek ‘n kollega wat nie inpas by ons organisasie se kultuur nie, wat moet nou gebeur en wat kan tot later wag? So kan ons talle ander voorbeelde noem; ons word oorval met baie besluite, en die meerderheid daarvan het nie maklike antwoorde nie.

Die hartseer realiteit is dat baie mense (ek inkluis) dikwels ja sê vir dit wat ‘n nee kon gewees het, en soms nee sê vir dit wat eintlik ‘n ja moes wees. Soms is die nee’s in ons lewe dié dinge wat dalk ‘n wesenlike verskil in my en my gesin se lewe sou maak, maar ek sien nie kans vir die opoffering wat dit van my gaan vra nie. Ander kere het die samelewing in die breë van ‘n sekere saak ‘n besliste ja gemaak, terwyl die moed van my oortuiging my noop om daarvoor te begin nee sê, ten spyte van ander se reaksie daarop.



Ek dink dat die meeste van ons ‘n eenvoudige hulpmiddel sal waardeer om ingewikkelde besluite mee te kan benader. Dalk is een bekende teksvers ‘n goeie plek om te begin. Matteus 6:33: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Hoe dien my ja of nee die koninkryk en God se wil? Dit is interessant dat die vers in hierdie vertaling juis begin met ‘n nee. Dit moedig my aan om te onthou: ‘n ja omdat ek ander wou tevrede stel of niemand wou teleurstel nie, kon dalk eerder ‘n nee gewees het.

‘n Paar praktiese idees:

- Onderskei watter besluite moet gou geneem word, en oor watter sake moet ek dalk eers verder dink of bid.

- Delegeer sekere besluite. Leer om te onderskei watter besluite jy aan ander persone kan toevertrou.

- “Done is better than perfect.” Soms is dit goed om te kies om te beweeg, sodat die werk gedoen kan word. ‘n Besluit wat tot in ewigheid uitgestel word, lei soms tot ‘n gebrek aan optrede.

- In groepsopset, streef na konsensus. Dit is beter om te weet dat ek die meederheid met my saamvat, as wat ek baie sterk oor ‘n saak voel, maar niemand stap saam nie.

Lag meer vir jouself en jou onvermoë om te weet wat om te doen! Dit haal alreeds onnodige druk van jou skouers af. Mag die besluite wat jy moet neem jou herinner dat jy maar net ‘n mens is en dat ons elkeen Goddelike wysheid nodig het.

Kommentarer


Recent Posts
bottom of page