top of page

Is jou motief al bekend? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 25 Augustus 2024 gepubliseer


In huweliksvoorbereiding gesprekke begin ek en Danél altyd by ‘n spesifieke woord: motief. Elke persoon moet neerskryf wat sy glo die motief (diepste beweegrede) is vir hoekom sy haar lewensmaat wil kies om vir altyd die lewe saam aan te pak. Eenvoudig genoeg… of is dit?

Kan ons werklik ons motiewe ten volle ken? Is daar nie dalk meer selfsug verbonde aan ons motiewe as wat ons besef of wil toegee nie?



Wanneer ons lees of hoor van ‘n moord wat gepleeg is, hoor of lees ons dikwels: “Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.” As die lewe net so eenvoudig was dat ons sommer vinnig ons eie, en ander mense, se motiewe kon insien! Ons motiewe is dikwels veelkantig, multidimensioneel en selfs nie eens ten volle aan onsself bekend nie!

In ‘n onlangse podcast wat ek geluister het, vertel Erwin McManus dat daar in meeste stories (ook ons eie) ‘n ‘hero’ en ‘n ‘villain’ is; en die meeste van ons doen ons bes om seker te maak dat ons nie soos die ‘villain’ lyk nie! As ek byvoorbeeld my werk bedank of afgedank word, moet ek seker maak dat my werkgewer as die ‘villain’ van die storie uitgebeeld word, sodat ek as die ‘hero’ kan wegstap. Sjoe. Dit het my nogal laat dink aan feitlik elke verhouding of groep wat ek deel van is of was, en hoeveel keer ek nie dalk al in dieselfde slaggat getrap het nie?

Ek wonder of ons nie beter sal vaar as ons uit die staanspoor aanvaar dat mense se motiewe goed, eerder as sleg is nie? Dit laat my dink aan die bekende 1 Korintiërs 13, wat eintlik gepas is vir alle verhoudings! Vers 7 word so in Die Boodskap vertaal: “Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie.”

Sê nou maar net elke mens op aarde was eintlik die ‘hero’ gewees? En wanneer hulle nie soos ‘n ‘hero’ optree nie, is daar dalk ‘n goeie rede daarvoor? Ja-ja, ek weet, die lewe is nie so idealisties nie en elke mens kan sy eie storie vertel oor hoe hy seergekry het omdat hy iemand te veel vertrou het. Maar as jy móés kies, sou dit nie van jou ‘n beter mens gemaak het as jy eerder mense die voordeel van die twyfel te gegee het, as om almal te wantrou nie?

‘n Ander gedeelte wat ook oor liefde handel, bevat ‘n ander kritiese woord: onderskei. Filippense 1:9-10: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”

Dalk is dit ‘n belangrike gebed om gereeld te bid: “Here, help my dat my liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling…”. As ek daarvoor vra, sal ek dalk my eie motiewe duideliker kan raaksien, en wie weet, dalk sal ek ook dan kan onderskei wanneer ander se motiewe nie suiwer is nie.

Mag ons dit al hoe meer regkry om minder die ‘hero’ te probeer wees, want dan gaan ons dalk te veel soek na die ‘villains’ rondom ons. Wanneer ons meer daarop fokus om lief te hê, word ons beter, en ons sien ook makliker die mooi in ander raak.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page