top of page

Is jou huis 'n ark? (JZ de Jager)

Oorspronklik 27 Januarie 2023 gepubliseer


Is jou huis ‘n ark?

Hierdie is ‘n vraag wat ek onlangs raak gelees het in ‘n boek van Johan Smith waarmee ek besig is.

Ek wonder of ons gedagtes dieselfde was toe jy hierdie gelees het? As ek dink aan ‘n ark dan kan ek nie anders as om te dink aan die ark wat Noag moes bou nie. En dan kan ek ook nie anders as om te wonder wat ‘n huis en ‘n ark met mekaar te doen het nie!

Ek dink meeste van ons ken die verhaal van Noag en die ark, maar ek dink nie ons besef wat hierdie verhaal vir gesinne kan beteken nie. Ons lees op twee plekke in die Bybel van die betekenis van die ark vir Noag se gesin:

Heb. 11 “7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam… Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red…”

Gen. 7 “1Toe alles klaar was, het die Here vir Noag gesê: “Klim in die ark in en vat jou gesin saam…”

As ek hierdie verse lees en mooi hieroor dink, hoor ek iets baie eenvoudig tog baie ingrypend: Die ark is gebou vir die redding van Noag en sy gesin. Die ark was ‘n veilige plek vir sy gesin. Die ark was gebou vir die gesin.

Hierdie gedagtes oor die ark het my diep aangeraak. Dit het my laat dink aan die huis waarin ek groot geword het. Dit het my verder laat dink aan goeie vriende van ons wat al met ons gedeel het oor hulle filosofie van kinders grootmaak. Dit het my ook laat dink aan die huis waarbinne ons ons eie kinders grootmaak. In al drie gevalle is daar een belangrike raakpunt, naamlik: die huis moet ‘n veilige plek wees. Die huis moet die plek wees waar jy en jou kinders graag wil wees. Die huis moet die plek wees waar jy jouself kan wees.

Ek dink nie mens kan ooit die waarde van ‘n gesonde en gelukkige huis (gesin) oorbeklemtoon nie. Daar is soveel kinders wat smag na beter verhoudings met hulle ouers. Net so is daar soveel ouers wat smag na goeie verhoudings met hulle kinders. Hulle besef net nie hoe belangrik dit is om jou huis in ‘n ark te verander nie.

Dalk wonder jy nou by jouself hoe jy dit gaan regkry om jou huis te verander na ‘n ark? Ek kan jou waarborg dat dit baie makliker is as wat jy dink. Jy hoef nie jou huis af te breek en dit van voor te bou in die vorm van ‘n ark nie! Wat jy wel kan doen is om die eetkamertafel of die kombuistafel skoon te maak en dit weer te begin gebruik. Wanneer mens om ‘n tafel sit en eet skep jy die geleentheid vir gesprek.

Nog iets wat jy kan doen is om die huis ‘n lekker plek te maak om te wees. Dit beteken nie dat jy ‘n klomp ekstra goed hoef te koop nie. Dit beteken dat julle vir mekaar sê dat julle onderneem om op ‘n sekere manier met mekaar te praat. Dit beteken dat julle sal tyd maak vir mekaar. Dit beteken dat julle dinge saam met mekaar sal doen. Dit beteken dat julle moeite sal doen met mekaar. Dit beteken dat julle gefokusde aandag sal gee aan mekaar. Dit beteken dat julle partykeer die skerms sal afsit, ‘n kers sal aansteek en saam ‘n bordspeletjie speel (gelukkig help loadshedding ook daarmee).

In my besig wees met hierdie vraag, het my gedagtes ook beweeg na die ander voorbeeld van ‘n ark waarvan ons in die Bybel lees. Dit het gegaan na die verbondsark. Die verbondsark het God se teenwoordigheid voorgestel in die tyd van die Ou Testament. Elke keer wanneer iemand te doen gekry het met die ark het hulle geweet hulle is in God se teenwoordigheid.

As ons dus ons huis wil verander in ‘n ark, dan gaan ons verder moet gaan as net om ons huis ‘n lekker plek te maak waar almal wil wees. Ons huis moet die plek wees waar ons kan leer van die lewe. Maar ons huis moet ook die plek wees waar ons leer van die Here. Dit is ook baie makliker as wat jy dink! As ons alreeds ‘n gewoonte geskep het om saam met mekaar aan tafel te sit, dan kan ons daardie gesprekke verander na geloofsgesprekke. Daar is baie hulpmiddels daarbuite wat ons kan help hiermee!

Mag jy ook vandag besef hoe belangrik dit is dat jou huis sal verander in ‘n ark! Mag jou huis die plek wees waar julle nader aan mekaar en nader aan die Here kan groei!

Comments


Recent Posts
bottom of page