top of page

Intensionele ouerskap in moeilike tye (JZ de Jager)

(Oorspronklik 24 Julie 2020 gepubliseer)

Aan die begin van die Nasionale staat van inperking meer as ‘n honderd dae terug het ek gereeld by myself gewonder of dit beter is om hierdie te doen met kinders in die huis en of dit makliker is om hierdie te doen sonder kinders in die huis. Dit het vir my gevoel dat daar basies twee moontlikhede is oor hoe die staat van inperking homself gaan uitspeel, naamlik 1) dit kan een lang vakansie wees, of 2) dit kan een groot nagmerrie wees. Ons het gekies om nie een van die twee te laat waar word nie want ons het twee kinders en ons het geweet dit gaan nie ‘n vakansie wees nie. Ons het gekies om die staat van inperking te gebruik as ‘n tyd waarin ons in ons kinders se lewens kan belê omdat ons geweet het wat voorlê. Ons het ons eie unieke uitdagings gehad in hierdie tyd. Ons was op die punt om te verhuis toe die staat van inperking ingestel is, dit het tot gevolg gehad dat ons vir ‘n paar weke in ‘n huis gebly het wat eintlik al redelik in bokse gepak was. Ons het geweet dat om te verhuis is nie maklik nie. Om wortels uit te trek en te hervestig op ‘n ander plek is seer. Om die bekende en gemak te ruil met die onbekende is spanningsvol en emosioneel.

Lank voordat ons self kinders gehad het, het ons al begin oplees oor ouerskap, oor kinders grootmaak en verskillende style van doen. Ons het besluit om ‘n benadering te volg wat ons kan noem positief deelnemende ouerskap (Ek het ‘n kursus bygewoon met die naam Padlangs na Positief Deelnemende Ouerskap en baie van ons denke kom vanuit hierdie kursus). Ons weet dat ons nie die perfekte ouers is nie en juis hierdie wete help ons om regtig met hart en siel positief en deelnemend te wees.

Ons weet dat ouerskap ’n langtermyn proses is en mens probeer werk met die einde in gedagte – ons wil hê ons kinders moet eendag goed gebalanseerde volwassenes wees.

Sonder dat mens dit bedoel dink mens baie keer dat jy jou kind ‘perfek’ moet groot maak. Hoe vinniger mens van hierdie gedagte kan wegkom hoe beter is dit vir jou eie gemoed. Die oomblik wat jy as ouer besef dat jy nie perfek is nie maak dit jou los van ‘n klomp dinge en die gevolg is dat jou kind ook nie perfek hoef te wees nie. ’n Ander waardevolle besef is die uniekheid van elkeen. Hierdie uniekheid het te doen met geslag maar ook met temperament en geaardheid. Elkeen van ons is uniek en dit beteken dat elkeen verskillend gaan optree in sekere situasies maar ook dat elkeen ’n voorkeur tipe het van hoe hulle hanteer wil word. Introverte en ekstroverte moet verskillend hanteer word. Wanneer iemand ervaar dat hulle raakgesien word vir wie hulle is en dat hulle ervaar hulle word aanvaar vir wie hulle is dan sal hulle veilig voel binne die verhouding en dit maak die pad vorentoe ’n klein bietjie makliker. Twee modelle waarna jy kan gaan kyk om sommer iets te leer van die verskille tussen mense is die Meyers-Briggs Type Indicator en die Vyf tale van die liefde deur Gary Chapman.

‘n Volgende fokusarea van die positief deelnemende ouerskap is om empaties te kan wees. Wat dit beteken is om met begrip te luister na jou kind. Elkeen van ons ervaar elke dag verskillende emosies en hoe langer ons in die lewe is hoe makliker raak dit vir ons om sekere emosies te hanteer. Ons leer onsself ken en ons weet wat ons in plek moet hê om emosies te beheer. Ons laat onsself toe om deur sekere emosies te gaan en dit is wat ons vir ons kinders ook moet bied. Ons moet kinders leer van emosies en ons moet hulle leer om emosies te kan verwoord. Ouers moet hulle kinders die waarborg gee dat hulle regtig begryp waardeur die kind in ‘n spesifieke situasie gaan. Vir my as ouer om my kind se emosie te verstaan beteken dat ek in die oomblik moet wees en met begrip moet luister. Ek moet probeer om by die wortel van die probleem uit te kom en die manier hoe mens dit doen is om te reflekteer wat die kind sê.

Kom ek gebruik ‘n voorbeeld: jou kind kom by jou aan en sê vir jou dat hulle beste maatjie gaan trek. Daar kan basies twee reaksies wees

(1) Moenie worry nie, daar is nog baie ander maatjies in jou klas, jy sal weer ‘n ander beste maatjie kry. Of

(2) aai, dit is slegte nuus, hoe laat dit jou voel?

Watter een van die twee reaksies gaan vir jou kind sê dat jy begrip het vir wat hulle voel?

Die eerste reaksie is ‘n baie tipiese reaksie en eintlik so normaal want meeste mense moes al deur ‘n vriendskaps verlies werk. Tog erken hierdie reaksie van die ouer nie die kind se emosie nie. In die tweede reaksie, wat positief deelnemend is hoor die ouer dat daar ‘n dieper emosie lê en lok eintlik deur middel van oop vrae reaksie uit om die kind te help om die emosie te verstaan en daardeur te werk.

Om empaties te wees en met begrip te luister vat tyd, dit kom nie natuurlik nie en mens val gou weer terug in die ou manier van luister maar die langtermyn wins hieruit kan nie vir een oomblik onderskat word nie.

Om na jou kind se emosie te luister en dit dan te reflekteer is maklik veral wanneer mens dink aan hoe jy moet reageer wanneer jou kind iets doen wat nie volgens jou aanvaarbaar is nie. Wat is belangrik om hierin te onthou? Jou kind is nie die probleem nie, dit wat hulle doen is die probleem. Ons is dus veronderstel om die kind en die probleem van mekaar te skei. Die positief deelnemende benadering tot ouerskap help ons as ouers om anders te reageer. Dit werk so – jy as ouer sien daar is ‘n probleem en jy spreek dit dan soos volg aan. Jy verduidelik vir jou kind wat die probleem is. Jy beskryf vir jou kind hoe dit jou laat voel as hulle so iets doen en dan beskryf jy vir hulle hoekom dit jou pla. Dalk kom jy dit al agter, maar die empaties luister word nou net bietjie omgedraai. Toe jou kind ‘n emosie gehad het moes jy probeer verstaan en nou dat jy ‘n emosie het moet jy jou kind help om te verstaan hoekom jy voel soos wat jy voel. En dit is belangrik om dit altyd op so manier te doen dat jy ‘ek-boodskappe’ gebruik en nie ‘jy-boodskappe’ nie. ‘n ‘Jy-boodskap’ is baie keer beskuldigend en dit is wat ons wil vermy. Die een belangrike ding om hier te onthou is om nie dadelik net te reageer wanneer iets gebeur het nie. Die ou-mense het altyd gesê mens moet tot 10 tel en ander mense sê dat jy die pause-knoppie moet druk. Al wat dit mee help is om te besluit hoe jy gaan reageer.

Dalk is dit voor die hand liggend vir sommige maar vir ander nie, maar hierdie manier van kinders grootmaak vereis dat julle mekaar sal respekteer. Ons moet met ons kinders praat soos wat ons met ons beste vriende sou praat. As jy jou kind met respek behandel sal dit mettertyd ook in hulle gedrag sigbaar word. Dink vir ‘n oomblik hieraan. Jou vriende kuier by jou en hulle breek een van jou mooi wynglase, hoe reageer jy daarop? Toemaar dit is net ‘n glas? Maar wat gebeur baie keer wanneer jou kind jou mooi wynglas breek?

Aan die begin het ek genoem dat hierdie benadering nie ‘n kortpad is na eenvoudige ouerskap toe nie. Want dit is nie. Dit vra tyd en energie. Tog glo ek dat elke ouer vir hulle kind net die beste wil hê. Jy as ouer weet hoe die grootmens wêreld is. Jy weet watter waardes jou kinders moet leer om eendag gebalanseerd te lewe en hierdie waardes moet die gesin se doelwit wees. Dit moet die motivering wees vir hoe en hoekom dissipline toegepas word. As jou of jou kind se gedrag nie inpas by die waardes waarop julle ooreengekom het nie moet daar sekere gevolge wees. Nie noodwendig om te straf nie maar om te her-belyn om terug te kom by die eindpunt waarheen julle op pad is.

Die fondasie van die positief deelnemende ouerskap is tyd. Vir enige verhouding om sterk en gesond te wees is kwaliteit tyd baie belangrik. En hierdie tyd vereis dat jy sal doen wat hulle wil doen en nie wat jy wil doen nie. Daardie halfuur wat jy saam met die kinders speel is iets wat hulle emosionele tenk vol gaan maak en dit maak dat die res ‘n klein bietjie makliker kom.

In ons huis was die inperking en die trek wat uitgestel was dalk ‘n bedekte seën want skielik het ons tyd wat ons anders nie sou gehad het nie. Die tyd wat ons in ons meisiekind se lewe kon belê was vir ons baie kosbaar. Ons kon saam met haar speel. Ons kon haar help om sin te maak van haar emosies van verlies en verlange en ook vrese vir wat voorlê. Dit is nie altyd gerieflik om alles te stop waarmee mens besig is en in die oomblik te wees en regtig te probeer luister en haar emosies te hoor en te reflekteer en nie net te reageer wanneer sy iets doen wat nie in lyn is met die waardes wat ons haar probeer leer nie. Maar ons gebed is dat hierdie tyd en die luister en die manier hoe ons haar deel maak van sekere besluite ons verhouding met haar ‘n veilige ruimte sal maak wat haar vrymoedigheid gee om haarself te wees en om haar vlerke te gee om eendag die vrou te wees wat die Here haar gemaak het om te wees.

In die huis waar ek grootgeword het, was daar ’n sê ding teen die yskas – “jy weet nie wat jy nie weet nie...” Ek dink dit is veral waar as dit kom by ouerskap, want mens weet eintlik niks en leer maar soos mens aangaan. Niemand is perfek nie, daar gaan foute wees, maar die Here se genade is groot. Ons hou aan bid dat die Here ons in hierdie pad sal lei deur aan ons denke te werk. ‘n Gebed wat ons aanhou bid vir onsself in hierdie tyd, maar ook vir ons pad van ouerskap is Rom. 12:2b “…maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

My gebed is dat jy ook in die verhoudings waarbinne jy staan intensioneel sal wees. Mag jy groot waarde heg aan die tyd wat julle met mekaar deel en mag jy altyd luister om te verstaan en nie te reageer nie.



Comments


Recent Posts
bottom of page