top of page

Hou aan probeer! (JZ de Jager)

Oorspronklik 2 September 2022 gepubliseer


Ek sien myself baie keer as ‘n student van die lewe. Ek is nie iemand wat altyd daarvan gehou het om vir ‘n eksamen te leer nie, maar ek hou daarvan om by mense te leer. Ek vind dit baie interessant om met iemand te gesels oor ‘n onderwerp wat hulle energie gee en sommer net van hulle kennis te tap. Dit beteken nie ek onthou altyd alles wat hulle my vertel nie, maar daar is altyd iets wat ek leer wat ek dan probeer toepas in my lewe.

Ons het byvoorbeeld baie moeite gedoen om op te lees oor ouerskap terwyl Karla swanger was met ons eerste baba. Ons het ouerskap-kursusse bygewoon en boeke gekoop en baie gesprekke gehad. Ons het ‘n idee gehad hoe ons die ouerskap-reis wil aanpak en dit is iets waarmee ons probeer volhou, want ons glo met ons manier van doen sal ons eendag ook die resultate sien wat ons graag wil sien.

Dieselfde geld vir my werk. Ek het al baie kursusse bygewoon oor baie verskillende onderwerpe en dit alles dra by tot die manier waarmee ek doen wat ek wil doen. As ek iets hoor wat vir my werk dan sal ek dit probeer deel maak van my lewe en as daar dinge is waarmee ek nie saamstem nie dan maak ek dit nie deel nie.

So kan ons seker enige iets in die lewe vat en dit deel maak van jou eie lewe. Dink aan ‘n dieet of oefen. Dink aan tydsbestuur en die wisselwerking tussen werk en speel. Dink aan geloof en jou verhouding met die Here.

Nêrens in die lewe gaan ons ‘n bron kry wat vir ons presies gaan sê wat ons wil hoor nie. Elkeen van ons verskil van mekaar en nie geen plan of bron gaan vir almal dieselfde resultate gee nie.

Ek dink wat belangrik is, is om vir jouself die vrae te vra, naamlik: 1)Waar is ek? 2) Waar wil ek uitkom? En dan 3)Wat gaan ek doen om daar uit te kom?

Kom ons vat oefen as ‘n voorbeeld.

1) Waar is ek? Nie waar ek wil wees nie… Ek voel nie gemaklik in my vel nie. Ek voel nie ek lewe so gesond soos wat ek kan nie. Ek voel nie tevrede met my vlak van fiksheid nie.

2) Waar wil ek wees? Ek wil ten minste fiks genoeg wees om dit wat ek doen te geniet. Dalk is dit om ‘n parkrun te doen… Dalk is dit om ‘n Midmar-myl te swem. Dalk is dit om ‘n bergfietswedren te ry.

3) Wat gaan ek doen? Ek gaan gesprekke hê met mense wat reeds doen wat ek doen. Ek gaan oplees en met kenners praat. Ek gaan vir my ‘n doelwit neersit en sê op daardie dag wil ek hierdie ding binne hierdie tyd regkry.

Hierdie is maar net die begin van die pad. Die werk begin eintlik eers nadat jy hierdie vrae vir jouself gevra het. Dit is mooi en alles om ‘n doelwit op papier te hê, maar voordat jy nie die eerste tree gee of daardie spaarrekening oopmaak of ander kruideniersware koop vir die gesonder leefstyl nie gaan dit net ‘n droom bly.

Selfs al gee jy die eerste tree of koop ander kruideniers en jy het die spaarrekening oopgemaak moet jy aanhou om die doelwit na te streef. As jy een maand minder weggesit het as wat jy wou, moenie ophou nie! Hou aan! As jy nie die kilometers gedoen het wat jy wou nie, moenie ophou nie. Hou aan probeer. As jy nie so gesond geëet het soos wat jy wou nie, moenie moed opgee nie. Hou aan!

Ons lewe in ‘n wêreld waar ons altyd vinnige resultate wil sien, maar ongelukkig werk alles in die lewe nie so nie. hou aan om jouself hierdie drie vrae te vra. Maak seker jy het mense in jou lewe wat jou gaan ondersteun in die doelwit wat jy vir jouself gestel het.

Daar is soveel Afrikaanse spreekwoorde wat iets oor hierdie onderwerp sê, byvoorbeeld” “Probeer is die beste geweer”, of “wie nie waag nie sal nie wen nie”

Ek wil jou uitnooi om ook ‘n student van die lewe te wees. Moenie ophou leer nie. Moenie ophou om tools vir die lewe bymekaar te maak nie. Moenie moed opgee as jy nie vinnig resultate sien nie. En moet veral nie die lewe op jou eie probeer doen nie. Omring jou met mense wat jou gaan ondersteun. Omring jou met mense wat jou hande sal sterk maak. En hou aan om te groei in die rigting wat jy glo die rigting is wat die Here vir jou beplan het.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page