top of page

Hoekom werk ons?

Oorspronklik 29 September 2023 gepubliseer


Waarom werk ons? Wat sê die intensie waarmee ons werk van ons?

Iemand wat werk verskaf aan ‘n paar mense vertel my nou die dag van die “onverklaarbare” tendens dat haar werknemers gereeld óf op ‘n Maandag óf ‘n Vrydag siek is en nie kan kom werk nie. Ek wonder: hoe dink ander oor ‘n persoon wat om watter rede ook al nié goeie werk lewer nie, iemand wat oneerlik is oor of hulle siek is, iemand wat op slim maniere graag eerder werk uitdeel sodat ander dit moet doen? Of die teendeel: hoe dink ander oor ‘n persoon wat ‘n fanatiese werker is, wat haar/sy gesin sal afskeep solank die werk gedoen word, wat ‘n toksiese werksomgewing vir ander skep? Wat sê ons manier van werk van ons as geestelike wesens?

Reeds in Genesis, toe die breuk tussen mens en God ontstaan het en die wêreld as gevolg van die sonde van die mens onherroeplik verander het, het die Here vir die mens gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien…” Van die vroegste tyd af sou werk nie net altyd lekker wees nie, sou ons onsself soms moes inspan om ons brood te verdien. Beteken dit dat ons ‘n weersin in ons werk moet hê? Ek twyfel! Natuurlik kan ons besig wees met iets wat binne ons aanleg val en iets doen wat vir ons lekker is, maar die aard van werk is dat dit van ons inspanning sal vereis, en daarom moet ons nie verbaas wees as werk soms soos inspanning voel nie!



Die meeste van ons spandeer meer wakker ure by die werk as wat ons by die huis is. Daarom is hoekom en hoe ons werk baie belangrik. Werk is een van die belangrikste getuienisse van ‘n gelowige. Hoe hartseer is dit nie wanneer iemand wat bekend is vir haar/sy geloof ook die een is wat die drama by die werk veroorsaak, of die persoon is wat ‘n swak leier is, of wat gereeld lyf wegsteek. Die teendeel is gelukkig ook waar: wanneer ‘n gelowige noukeurig werk, inisiatief neem, ander in ag neem en omgee en belang stel, die las vir ander probeer ligter maak en ‘n aangename werksomgewing help skep, sê dit iets. Wanneer ek goed werk, mag ek maar die goeie storie van die evangelie deel. Wanneer dit nie die geval is nie, moet ek eerder maar my mond hou en eers fokus op my werksetiek.

Ek het al gehoor van mense wat doelbewus laat in die nag e-posse antwoord, omdat dit die indruk skep dat hulle baie hard werk. Hoekom werk ons soos wat ons werk? As ons te veel wonder wat ander se opinie oor ons is, begin ons soms snaakse dinge te doen, ook wat ons werk betref. Wanneer ons waarde as geliefde en toegeruste kinders van die Here vasgelê is, sal ons werk dit ook bevestig.

Daarom, liewe vriend, hoekom werk jy soos wat jy doen? Wat kan jy oor jouself leer in die manier hoe jy werk?

- Is jou werk , wat dalk met geweldige spanning en ure gepaard gaan, jou sleutel tot ‘n oordadige lewe wat jou gesin eintlik nooit voor gevra het nie?

- Is jou werk ‘n geleentheid om diensbaar te wees?

- is die manier hoe jy geld verdien, eerbaar?

- weet jou kinders wat jou werk behels? Het jy hulle al gaan wys wat jou werk behels?

- Wat leer ander oor jou karakter by die werksplek? Ons kan nie ‘n liefdevolle gesinsman/vrou wees maar ‘n tiran by die werksplek nie. Dan beteken dit dat daar iets met ons karakter skort.

Dalk help hierdie vers ons om nuut te dink oor hoe ons kan werk:

“As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ‘n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo.” 1 Petrus 2:22

Jou werk maak saak. Jou werk is geestelik. Hoe jy werk, vertel ‘n storie. Hoe lyk jou storie?



Comentários


Recent Posts
bottom of page