top of page

Hoekom wag tot 70? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 14 Oktober 2022 gepubliseer


Ek is seker elke ouer se groot vrees is dat hulle kinders siek word wanneer hulle met vakansie is, en is dit nie ironies dat dit dikwels so uitwerk nie!

Ons moes onlangs ‘n dokter opsoek om na ons siek seuntjie te kyk terwyl ons met vakansie was. Toe die dokter my van uitroep en ek sien die ou omie voor my, het my moed behoorlik in my skoene gesak. “Het dié oom nog die krag om ‘n klein seuntjie te ondersoek, wat skop en skree wanneer ‘n dokter wil ondersoek instel?” het ek gewonder. Ek was geheel en al verkeerd!

Ek en Danél het na die tyd met mekaar gedeel dat dié dokter ons só welkom laat voel het. Hy het vir ons maklik verstaanbare raad oor mangelontsteking gegee en met soveel goeie raad bedien, dat ons sommer weer nuwe moed geskep het. Hy het uitgevra oor ons seuntjie se naam en oor sy eie kleinkinders gesels, en ek het begin wonder of hy nie maar moet klaarmaak nie, want ander mense wag sekerlik. Maar hy het gekies om die tyd uit te koop. Wat het ‘n sewentigjarige dokter per slot van sake om te verloor? Hy is nog daar omdat hy daar wíl wees.

Tydens dieselfde vakansie het ‘n vriendin oor haar pa gesels wat onlangs ‘n pensioenaris geword het; nie uit vrye keuse nie, maar omdat die nuwe bloed in die organisasie hom waarskynlik as ‘n bedreiging beskou het en hom eerder uitgewerk het. Nou doen hy as pensioenaris wat sy hand vind om te doen, maar die hartseer is dat sy rykdom in ervaring nou vir hierdie organisasie verlore is.

‘n Man wat diep in sy sewentigs is, het hierdie week die moeite gedoen om by my koffie te kom drink. Die enigste rede vir sy besoek was om my te bemoedig en op te bou. Hy het verskeie dinge genoem waarvoor hy waardering vir my as mens het. Ek was daarna gevul met ‘n diep dankbaarheid. Iemand het aan my gedink. Iemand, vir wie ek ‘n baie hoë agting het, het kom deel wat hy in my raaksien.

My onlangse ervarings met ouer mense het my laat dink oor hoe ons kies om ons lewens in te rig, hoe ons werk, hoe ons met mense kontak maak (of nie), hoe ons dink oor ander se idees oor ons.

Ons hoef nie sewentig te word voordat ons vir mense die geskenk van ons tyd en ons volle aandag gee nie. Ons kan kies om dit vandag te doen.

Ons hoef nie sewentig te word voordat ons ons gedagtes en menswees deel, sonder die vrees dat iemand nie gaan saamstem nie, of van ons gaan verskil nie. As my gewildheid op die spel is, of die feit dat iemand nie meer so baie van my gaan hou omdat ek my waarheid met integriteit geleef het nie, wat het ek nou eintlik verloor in die proses?

Ons hoef ook nie sewentig te word om by iemand te gaan sit en hulle waarde en potensiaal te bevestig nie. Ons hoef nie sewentig te word voordat ons opreg waardering uitspreek nie.

Wat kan jy vandag anders doen, watter verandering in jou ingesteldheid gaan vandag die verskil maak wat iemand anders gaan raak?

Comments


Recent Posts
bottom of page