top of page

Hoekom uitbranding nie jou werklikheid hoef te word nie (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 26 Januarie 2024 gepubliseer


In die kringe waarin ek gereeld beweeg, is die gesprek rondom uitbranding ‘n redelike algemene tema.

Ek het al gehoor hoe verskeie mense hulle eie belewenisse rondom uitbranding deel, en baie inligting rondom uitbranding gevolg.

Die groot probleem met uitbranding is dit: wanneer ek moeg is na ‘n uitdagende dag of ‘n tydperk van intense druk, kan ‘n wegbreek of goeie slaap my redelik maklik help om weer verfris en gereed te voel vir ‘n nuwe seisoen. Wanneer ek uitgebrand is, vat dit soveel meer tyd en inspanning om weer die trappies van herstel stelselmatig uit te klim.

Ek is nie ‘n kenner wanneer dit by uitbranding kom nie. Ek het ook nie ‘n aangrypende storie om te vertel oor hoe ekself moes baklei vir herstel en genesing na ‘n seisoen van intense uitbranding nie. Tog, is ek (en my vrou) tans in die opwindende seisoen van klein kinders grootmaak en ‘n beroep wat (veral emosionele) inspanning van ons vereis. Om jong kinders te hê is regtig ‘n spesiale seisoen en ek het al oorgenoeg ouer mense hoor sê dat ons élke oomblik moet koester (wat ons graag doen!). Die ander kant van die munt is: dit is ‘n veeleisende seisoen as ouer van jong kinders. Ons kinders het nog nie die sosiale en emosionele woordeskat om altyd rasioneel te dink en te redeneer nie, en om na ‘n lang, uitdagende dag met ‘n tweejarige te onderhandel oor verskeie “onbenullighede” is nie altyd lekker of maklik nie. Verder is die meeste ouers met babas in ‘n seisoen waar ononderbroke, diep slaap nie vir hulle beskore is nie. Met ander woorde: hulle het nie genoegsame toegang tot die diep slaap wat ‘n mens eintlik nodig het om te herstel en verfris te voel nie.



Dít is in my opinie en bietjie ervaring dalk tans een van die groot kwessies wanneer dit by uitbranding kom: dalk is dit uiteindelik al die stukkies vrag wat saam die kameel se rug kan breek (werksdruk, finansiële druk, eise van ouerskap, sosiale verwagtings ens.).

Is jy dalk ‘n goeie kandidaat vir uitbranding? Wonder jy soms of jy nie dalk uitgebrand is nie? Carey Nieuwhof skryf uitstekend oor uitbranding, omdat hy dit self eerstehands ervaar het. Hierdie sinnetjie deur Nieuwhof som die verskynsel vir my mooi op: “Burnout moves fatigue and the darkness from a place where it was in your control to a place where you can simply no longer control either.”

Hy skryf ook oor die 11 tekens van uitbranding (die skakel is aangeheg, as jy sy gedetailleerde verduideliking wil gaan lees):

1. Jou passie vir alles taan

2. Jy verloor die vermoë om te voel en te ervaar (numbness)

3. Klein goedjies maak jou buite proporsie kwaad of ontstel jou

4. Almal en alles dreineer jou

5. Jy raak maklik sinies

6. Niks bevredig jou meer nie

7. Jy dink nie meer logies of rasioneel nie

8. Jy is nie meer produktief nie

9. Jy self-medikeer (self-medicate) met skermtyd, alkohol, seks, oormatige spandering ens.

10. Jy sukkel om te lag

11. Slaap en af-tyd voel of dit nie herstel bring nie

Indien jy ja gesê het vir ‘n paar punte, is jy dalk net moeg. Indien ‘n klompie tekens met jou resoneer, is jy dalk op ‘n plek waar uitbranding ‘n gevaar of ‘n realiteit vir jou is.

‘n Paar stukkies genade-planne om te bedink om uitbranding te voorkom:

- Praat

Ons dink soms ons doen ander gesinslede, kollegas of vriende ‘n guns om die druk wat ons in ons eie lywe en gemoed voel, te absorbeer deur nie iets te sê nie. Êrens moet ons die genade gegun word om te sê: “Ek trek swaar… ek sukkel… ek is moeg…”. Leer die vermoë aan om op die regte tyd, teenoor die regte persoon te erken dat jy sukkel.

- Stel jou grense

Veral wat ons werksplek betref is hierdie waarheid belangrik om te onthou: die meeste werksplekke gaan nie vír jou sorg dat jy volhoubaar en effektief werk nie. Inteendeel, en dit is jammer dat dit so is: baie werksplekke sal vra vir al hoe meer solank dit hulle bevoordeel. Later, wanneer jy deur ‘n egskeiding gaan, in die hospitaal of in jou graf beland, gaan daardie selfde mense hulle hande in onskuld was.

Jy het ‘n goeie idee wat nodig is vir jou om goed en sinvol te kan werk. Sê nee wanneer dit nodig is.

- Vind die balans

As ‘n spertyd van jou vereis om vir ‘n paar aande laat in die aand of vroeg in die oggend te werk, maak seker dat jy dit later balanseer met genoeg rus, spesiale tyd saam met vriende of jou familie. As jou werksomgewing tans met druk gepaard gaan, doen na werk dinge wat jou help ontspan of lag.

Laastens, en dalk die belangrikste:

- Koop die klein stukkies tyd uit

Wanneer ‘n gevoel van oorweldiging ons beetpak, is dit moeilik om ‘n gesonde perspektief te behou. Ons verval dan maklik in ‘n skaarste perspektief: “Ek het nie tyd nie, ek het nie geld nie, ek kan niks verander aan my omstandighede nie, my kinders maak my moeg…”.

Dink aan die kort stukkies tyd wat wel tot jou beskikking is en hoe die somtotaal van daardie stukkies tyd jou kan help om te herlaai, of met ‘n betekenisvolle ander te bind. Byvoorbeeld: luister ‘n inspirerende podcast wanneer jy bestuur, as jy drie minute het voor ‘n vergadering, gesels met die Here vir drie minute, as jy nie vandag ure saam met jou kinders kan spandeer nie, fokus op die paar minute tot julle beskikking en maak seker dat daardie paar minute tel.

Ek glo dat Jesus nie sommer net soetsappig wou klink toe Hy gesê het dat Hy vir ons ‘n oorvloedslewe beplan nie. Dit is ons verantwoordelikheid om daardie lewe na te jaag en te bou saam met die mense vir wie ons lief is.

PS. Besoek ons webtuiste, waar jy vorige artikels kan soek (kweekhuis.co.za). Vir enige versoeke of om met ons kontak te maak, ons e-pos is hello@kweekhuis.co.za.

Comentários


Recent Posts
bottom of page