top of page

Hoe werk die balans tussen doen en wees? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 17 Mei 2024 gepubliseer


Ek gesels nou die dag met ‘n wyse persoon oor dinge wat ek graag nog wil bereik. My verwagting was om praktiese raad te ontvang oor hoe ek te werk moet gaan, wat ek moet doen, maar sy antwoord was beter! Hy het my weer herinner aan die volgorde en voorrang tussen twee woorde: wees en doen.

Voordat ons kan vra hoe ons sekere dinge moet doen, moet ons seker maak wie ons wil wees, en hoe ons saam met ander wil wees.

Dit is tog wat dit beteken om ervaring te hê, is dit nie? Ons luister nie graag na spesifieke mense net omdat hulle al baie boeke in hulle leeftyd gelees het nie, maar omdat hulle self boeke kan skryf oor hulle lewenservarings saam met ander.

Is dit nie soms wat ons moeg maak in die verskeie rolle wat ons vervul nie? Ons elkeen het ‘n lang lys dinge om te doen, maar soms vergeet ons wat ons beweegrede agter al hierdie verpligtinge is. As daar by ons duidelikheid is oor wie ons wil wees en hoe ons saam met ander wil wees, dan raak die dinge wat gedoen moet word vir ons helderder.



Dink maar aan enige persoon vir wie jy diep respek en waardering het. Is dit omdat daardie persoon baie goed in ‘n dag gedoen kry? Of is dit eerder die manier hoe daardie persoon jou laat voel in hulle teenwoordigheid? Ironies genoeg is mense wat die kuns van saam met ons wees verfyn, mense wat produktief is en padlangs ook sekere dinge bereik wat ander nie altyd doen nie.

Hierdie fyn balans tussen wees en doen is ook belangrik in die manier hoe ons byvoorbeeld ons kinders help vorm, en ander mentor. Ons grootste en primêre taak as ouers en mentors is nie om hulle te leer wat om te doen nie, maar wie om te wees en te word. Daarom maak dit vir my absoluut sin dat ons ons kinders se karakter moet prys, en minder fokus moet plaas op die dinge wat hulle goed doen. As ons kinders net reaksie kry wanneer hulle iets goed doen, dan begin hulle te leef daarvoor, en dit skep onnodige druk. Maar meer as dit: ek dink ons kinders het soms net ‘n behoefte om saam met ons te wees, sonder ‘n volgende ding wat gedoen of afgehandel hoef te word. Ten diepste het hulle die behoefte om te weet dat dit vir ons lekker is om by hulle te wees.

Is dit nie wat Jesus so ‘n effektiewe leier gemaak het nie? Hy het dit reggekry om te wees saam met die dissipels, en in hulle saam-wees, het Jesus hulle geleer hoe die Koninkryk op klein maar kragtige maniere die wêreld op sy kop kan draai.

Dink saam met my goed na oor die manier hoe ons kies om te wees, en saam met ander te wees. Ons mag dalk net baie gedoen kry as ons daarop fokus!

Comentarios


Recent Posts
bottom of page