top of page

Hoe waardevol is die waarde wat jy toevoeg? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 20 Januarie 2023 gepubliseer


Hoe bepaal jy die waarde van iets? Dit is baie meer eenvoudig om die waarde van ‘n fisiese, tasbare produk of bate te bepaal. As iets soveel kos, maar ek is nie bereid om soveel te betaal nie, dan beteken dit ek ag nie die bate of produk waardevol genoeg nie.

Aan ander dinge wat nie tasbaar is nie, is dit nie so maklik om ‘n waarde aan te koppel nie. Dikwels oor- of onderskat ons die waarde van iets. Soms dink ons (dikwels verkeerdelik) dat ‘n sekere aspek van ons lewe baie waarde het, en ander kere onderskat ons die waarde van byvoorbeeld die belegging in ‘n betekenisvolle verhouding.

Ons is gemaak om waarde toe te voeg. Dit is onlosmaaklik deel van ons menslike DNS. Hoe meer waarde ons toevoeg, hoe meer voel ons dat ons lewe saak maak en die moeite werd is.

Ek wil graag twee aanhalings van skoolhoofde in ons gemeenskap (Nelspruit) met jou deel. Die een hoof het onlangs die tuig neergelê. By sy afskeid het verskeie van die leerders genoem dat sy goue reël nog altyd was: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.” Hierdie woorde kom ‘n paar keer in die evangelies voor. As dit ons almal se goue reël word, sal ons gemeenskappe sien wat omsien na mekaar, waar mense waarde probeer toevoeg op hulle eie unieke manier.

Die ander hoof, ‘n hoof wat onlangs aangestel is by ‘n laerskool in ons gemeenskap, het genoem dat sy lewensfilosofie strook met die aanhaling van die destydse prediker John Wesley: “Do all the good you can, by all means you can, in all the ways you can, in all the places you can, to all the people you can, as long as you ever can.”

Daar is ‘n belangrike vertrekpunt vir ons wat graag waarde wil toevoeg. Ons moet ons waarde eerstens op die regte plek gaan soek. Jesus se woorde in Lukas 12:6-7 help my baie hiermee: “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

As ons die waarheid omhels dat ons waarde nie deur mense bepaal word nie, maar deur ons Skepper, is ons gereed om waarde toe te voeg.

Ek het al self die spanning beleef tussen kritiek en komplimente. Dit was vir my moeilik om te weet wat om te maak met hierdie twee uiterstes. Wanneer mense ‘n kompliment gegee het, het ek soms nie geweet hoe om die kompliment met grasie te aanvaar nie. Ek het ook al soms beleef dat kritiek my ontstel. As dit ons begeerte is om waarde toe te voeg, is ons toegerus om kritiek én komplimente te ontvang en te integreer. As iemand ‘n kompliment gee, het ek geleer om te sê dat ek dankbaar is as ek kon waarde toevoeg. As ek kritiet ontvang, probeer ek om te vra: “Hoe gaan hierdie stukkie inspraak my help om beter waarde toe te voeg in die toekoms?”

Watter waarde voeg jy toe? Sien jy raak dat jy waarde toevoeg? Besef jy dat jy waardevol is in jou Skepper se oë?

Komentarze


Recent Posts
bottom of page