top of page

Hoe oop is jou deur-beleid? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 4 Desember 2020 gepubliseer


Ek onthou as jong seun dat ons maatjies in die klas geweet het dat daar nie ‘n manier is dat ons aan ‘n meisie slaan nie. Ja, selfs al was jy (vir watter rede ook al) aan die ontvangkant van die plathand van ‘n meisie; die goue reël was: jy slaan nie terug nie.

Geld dieselfde goue reël nogsteeds in gemeenskappe? Of was my jong lewe maar net in watte toegedraai?

Die kwessie van geweld teen vroue en kinders kry (dankie tog) al hoe meer lugtyd in ons samelewing. Ons lees van die ontstellende verhale, maar die stories is dikwels vêr van ons eie lywe.

In ‘n onlangse konferensie het ons gesels oor die volgende fondasies vir gesprekvoering:

- Ek sien jou

- Ek hoor jou

- Ek hanteer jou met liefde

- Ek respekteer jou

Hoe sou ons gemeenskappe lyk as hierdie beginsels die goue reël was? Ons sou jong seuns en dogters grootmaak wat elkeen in watte toegedraai word!

Gelowiges verstaan dat elke mens in die beeld van God geskep is. Wat is die praktiese implikasie van mense wat leef asof elke mens in God se beeld geskep is? Dat elke mens gesien en gehoor moet word, dat elke mens met menswaardigheid hanteer moet word.

En ook: dat ons kies om nooit op te gee as ons nie die beeld van God in mense raaksien nie.

Want ons weet: selfs die rofste diamant bly steeds ‘n diamant; hierdie diamant kort net meer werk om te word wat dit alreeds is.

Om ons kinders te kan grootmaak met die waardes: ons sien mekaar, ons hoor mekaar, ons hanteer mekaar met liefde en respekteer mekaar; is ‘n wonderlike geleentheid. So kan ons minstens een of twee mense die wêreld instuur wat ander mense as waardevol ag.

Ons leef wel in ‘n wêreld waar ons onmoontlik ons eie gesinne teen alles kan beskerm. Ons loop ook die gevaar om so na binne gerig te leef, dat ons ons roeping na buite heeltemal miskyk.

Volgelinge van Jesus se DNA is dié van oop-deur-mense. Ons is sensitief vir dit wat rondom ons aangaan. Ons draai nie ‘n dowe oor na weerlose mense nie. Ons luister, ons kyk fyn en probeer om raak te sien.

Waar ons kan, probeer ons saam bou aan veilige ruimtes waar ander veilig kan voel; veral waar daar min watte in voorraad is!



Comments


Recent Posts
bottom of page