Die dinge wat keer dat ons floreer (Anru Liebenberg)
Oorspronklik 6 September gepubliseer
Het dit al ooit met jou gebeur dat een seer deel van jou lyf aanleiding gee tot ‘n volgende een? Veral vir drawwers is dit nogal algemeen. My linkerheup is seer, en sonder dat ek dit besef, oorkompenseer my lyf vir die seer heup. Kort voor lank is nie net my heup seer nie, maar my regterknie ook!
Ek en jy is dikwels besig om op een of ander manier te oorkompenseer in ons lewens. Die voorbeelde is legio:
- My werksdruk spoel oor tot my gesin. Die spanning wat ek by die werk ervaar het, is nou ook sigbaar tussen die vier mure van my huis.
- In die verlede het ek seergekry in ‘n verhouding, my eer is gekrenk, en nou is ek oorsensitief in ander verhoudings.
- Daar was ‘n vertrouensbreuk in my lewe. ‘n Verhouding waarin ek vertroue gehad het, het anders uitgewerk as verwag (my ouers se huwelik, ‘n besigheidsverhouding, ‘n romantiese verhouding). Nou hanteer ek my lewe en verhoudings met ‘n oordosis wantroue.
- Ek voel alleen of verveeld of onvervuld. My foon het die rol van ‘n hulpmiddel verruil vir dié van ‘n metgesel wat my laat beter voel, maar wat my daarna nog meer leeg laat voel.
Die oplossing vir enige voorbeeld waar ons oorkompenseer is eintlik voor die hand liggend: ja, wees bewus van die sekondêre ‘seer’ en hanteer dit, maar gaan terug na die primêre wortel van die kwaad. Wat het gemaak dat ek begin oorkompenseer het, en hoe spreek ek daardie verwonding of seer aan?
Dit is eintlik verstommend hoeveel van ons die lewenspad loop met ‘n skeet. Nog meer hartseer is dat daardie skeet aan ander oorgedra word of ander beïnvloed, terwyl die oplossing daarvoor eintlik nie so kompleks is nie. Om ‘n ‘skeet’, of dit nou trauma, verhoudings- of spanningsverwant is aan te spreek gaan wel van ons dapperheid verg; die vermoë om te gaan waar dit dalk die seerste is, sodat ander seer ook in die toekoms uitgeskakel en in die kiem gesmoor kan word.
Dalk dink jy vandag soos jy lees: “Dankie tog dis nie ek nie!” Die waarheid is, almal van ons oorkompenseer in ons lewens! Dalk is daar nie ‘n ernstige ‘besering’ in jou lewe nie, maar in ons pogings om te leef en te oorleef in hierdie lewe, het ons almal ritmes aangeleer wat nie vir ons of ander die beste kans gee om in oorvloed te leef nie.
Ons liggame is geskep om in balans te funksioneer. Hoe beter ons dit kan regkry om, na ‘n tydperk van inspanning, weer terug te keer na ‘n toestand van homeostase of balans, hoe beter gaan ons weer daarna kan funksioneer.
Hoor hierdie mooi woorde uit Spreuke 3:5-8 (Die Boodskap): “Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge. Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ‘n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak. Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees.”
In die woorde van Lize Beekman: “Ek wens vir jou geloof, hoop, liefde, rus en vrede, ewewig en stilte.”
Comments