top of page

Dit wat jy nié kan kwantifiseer nie (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 29 Augustus 2024 gepubliseer


As ek ‘n maand gelede vir jou gevra het: “Ken jy vir William Smith?” sou jy waarskynlik nee gesê het. As ek sou vra: “Onthou jy die ou wat Wiskunde op TV geleer het?” behoort jy te kan ja sê! William Smith is so ‘n week gelede oorlede en baie mense het weer nagedink aan die man wat duisende jongmense, met behulp van die TV, gehelp het om Wiskunde en Wetenskap te kan slaag. Behalwe vir die Learning Channel, wat die meeste van ons onthou, was hy ‘n merkwaardige mens.

Sy pa, ‘n igtioloog (viskenner) het die selekant (‘n antieke vis wat later weer herontdek is) identifiseer. Smith het grade in fisika en chemie verwerf en uiteindelik homself toegespits op die onderwys, waar hy kwaliteit onderwys in die 1970’s toeganklik gemaak het deur Star Schools, ‘n skool wat kinders van alle rasse verwelkom het.

Die afgelope week het ek op sosiale media gesien hoe iemand William Smith bedank vir die feit dat hy hom gehelp het om matriek te kon slaag en uiteindelik ‘n sukses van sy lewe te maak.

Sy nalatenskap is onbetwisbaar: baie mense het gebaat by sy intelligensie en visie. Die ironie is dat hy nooit uit die meerderheid se mond sou kon hoor watter impak hy in hulle lewens gemaak het nie.

Ek het nou die dag ‘n ompad gery, verby ‘n gholfbaan waar ek as kind gereeld saam met my pa en broer gespeel het. Dit was lekker tye gewees en ek dra die mooi herinneringe met my saam. Daardie gholfbaan bestaan nie meer vandag nie. Waar die gras en die setperke netjies gesny was, is dit nou net veld. Eens het baie mense die netjiese bane nuttig en betekenisvol gevind. Alhoewel die baan nie meer bestaan nie, kan niemand die mooi herinneringe van ons wegneem nie.



Almal van ons kan nie William Smith wees nie. Dit is nie vir ons elkeen beskore dat duisende mense ons ken of van ons weet nie. Maar elkeen kan ‘n verskil maak. Elkeen kan betekenis tot ander se lewens voeg.

Ek dink spesifiek aan onderwysers wat jaar-in en jaar-uit hulle kennis en gawes met kinders deel. Van al die kinders wat in hulle klaskamer gesit het, sou ‘n onnie dalk weer hoor van ‘n handjievol en hoe hulle lewe verloop het. Enkele leerders sou dalk weer kontak maak om te sê hoe dit gaan en om dankie te sê. ‘n Onderwyser kan nie bepaal, of kwantifiseer, watter impak hulle in elke kind se lewe gemaak het nie. Tog is een ding vir elke onderwyser duidelik: “Ek wíl ‘n verskil maak”.

Wat van jou? Wat wíl jy graag bereik? Watter nalatenskap wil jy agterlaat?

Ek en jy leef nie vir die applous van mense nie. As dit ons doel is, gaan ons nie veel betekenis nalaat nie. Tog is dít die toets van jou nalatenskap: die stories wat ander jare later oor jou kan vertel.

Of jy ‘n vriend, helper, ouer, mentor of wat ook al is: mag die stories wat ander oor jou vertel mooi wees. Mag die geur van Christus aan jou klou sodat almal wat met jou in aanraking kom, dit kan geniet (2 Korintiërs 2:15).

Kommentare


Recent Posts
bottom of page