top of page

Hoe lyk jou woorde tussen hiérdie vier mure? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 17 September 2021 gepubliseer


Ons almal het al mooi geleer dat sekere woorde of gedagtes nie noodwendig gepas is vir alle ore nie. As ek intense frustrasie met my baas beleef, is dit dalk ‘n goeie idee om daardie frustrasie eers met ‘n vriend of vertroueling, en nie my baas self nie, te deel!

Die uitdaging vir ons almal, is om te onderskei hoe ons praat en gedagtes deel by die plek waar ons die gemaklikste is: ons eie huise.

Ons huis kan so maklik ‘n ruimte word waar te veel pessimisme, klaery en oorkritiese opmerkings oor ander mense toegelaat word.

Natuurlik moet ons huis altyd die plek wees waar ons sonder enige masker kan gesels en deel. Hier help gevoelswoorde ontsettend baie. As ek en jy kan leer om ‘n gevoel of emosie te koppel aan die spreekwoordelike apie op my skouer en vir hom ‘n naam te gee, raak dit al hoe makliker om ook van hom ontslae te raak. Maar as ons verval in negatiewe, afbrekende taal om hierdie apie te probeer beskryf, raak hy net al hoe groter en sy naels klou al hoe dieper.

Ons is dit aan elke persoon in ons huis verskuldig om nie sommer van alle filters ontslae te raak wanneer ons by ons voordeure instap nie. Ons laai dan soms ‘n las op veral ons kinders, wat nie vir hul bedoel was om te dra nie. Verder aanvaar ons kinders dan dat dit maar is hoe ons moet praat.

Gelowiges moet immers geken word aan ons lewegewende woorde. As dit nie die geval in ons lewens is nie, het dit dalk tyd geword om ons eie harte eerlik te ondersoek. Selfbewustheid (self-awareness) is ons vriend in ons soeke na die regte woord op die regte tyd.

Mag jou gesin by jou leer hoe dit lyk om sinvol te deel wat in jou gemoed leef, positief en opbouend te bly en oor ander mense met respek te praat (selfs al maak hul ons soms kwaad!).

Comments


Recent Posts
bottom of page