top of page

Hoe groot is die klein goed? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 26 November 2021 gepubliseer


Trek jou keel ook soms toe oor die wêreld waarin ons kinders moet grootword? Ek gesels gereeld met bekommerde ouers hieroor. Hoe beskerm ek my kind teen al die negatiewe invloede? Is dit moontlik om my kind te pantser daarteen?

My eerste voorstel is om ‘n magdom watte op ‘n Black Friday special te koop en ons kinders daarin toe te draai! Maar daar is sekerlik sinvoller opsies.

My vrou het onlangs ‘n betekenisvolle aanhaling deur Catherine M. Wallace met my gedeel:

“Listen earnestly to anything your children want to tell you, no matter what. If you don’t listen eagerly to the little stuff when they are little, they won’t tell you the big stuff when they are big; because to them all of it has always been big stuff.”

Dit is maklik om ons so te bekommer oor die groot monsters in die samelewing, dat ons later nie meer die klein jakkalsies raaksien nie. Een van die beste maniere om die klein jakkalsies vroeg te identifiseer, is om na ons kinders te luister – altyd. Of dit nou gaan oor die denkbeeldige maatjie in die huis, die modderkoekies wat gebak moet word, ‘n maatjie wat haar pla, ons werk is om so goed soos ons kan te luister.

Om jou gesin te pantser teen die groot invloede, is die beste plek om te begin, met die klein dingetjies. Luister ons na die klein dingetjies? Ewe belangrik: hoe reageer ons op die kleiner dinge? As jou reaksie op ‘n gebreekte venster maak dat jou kind afgebreek en soos ‘n mislukking voel, kan jy nie verwag dat hy later met jou gaan gesels oor sy gebreekte hart nie.

Een van ons as ouers se grootste voorregte is om ‘n vertrouensband tussen ons en ons kinders te bou. Ons doen dit deur tyd saam met mekaar te spandeer, en te fokus daarop om werklik teenwoordig te wees.

Natuurlik geld hierdie beginsel nie net vir die verhouding met ons kinders nie. Ons huwelike sal floreer, my werksverhoudings kan net groei, wanneer ons die klein dingetjies as groot ag.

Comments


Recent Posts
bottom of page