top of page

"Greatness should serve a greater purpose" (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 16 September 2022 gepubliseer


Het jy al ooit van Jeremy Cowart gehoor? Waarskynlik nie.

Ek is seker jy het al van Taylor Swift, Sting, die Kardashians, Britney Spears of Carrie Underwood gehoor? Jeremy Cowart is al deur hierdie persone gevra om foto’s van hulle te neem.

Jeremy het ‘n baie inspirerende storie. As kind was hy, in sy eie woorde, gemiddeld. Hy het in niks uitgeblink of floreer nie en vir baie jare was sy lewensmotto: “Ek kan nie.” Sy pa het ‘n doelbewuste poging aangewend om die onwaarheid in sy seun se kop te vervang met die kragtige woorde uit Filippense 4: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee.”

So het Jeremy oor baie jare verskeie struikelblokke oorkom, onder andere dat hy kognitief nie goed aangelê was nie, en uiteindelik ‘n uitstekende, gerespekteerde fotograaf en kunstenaar geword het.

In ‘n video op YouTube (skakel aangeheg aan die einde van die artikel) vertel hy dat in ‘n stadium in sy lewe ‘n kruispad bereik het. Hy was suksesvol; uitermatig suksesvol. Hy het uitnemendheid bereik, maar hy het vir homself gesê dat dit sekerlik nie nou dít kon wees nie. Toe het hy tot die besef gekom: “Greatness should serve a greater purpose”.

Hy het toe sy gawes en vermoëns begin aanwend om mense se lewens te raak, en ander fotograwe genooi om dieselfde te noem. Van sy projekte sluit in: om van hawelose mense portretfoto’s te neem en verniet vir hulle te druk, hy het na verwoestende aardbewings in Haïti mense se verhale deur middel van foto’s vertel (sy foto’s is by ‘n beraad van die VN uitgestal, waar hulle $10 biljoen vir Haïti bewillig het), hy het verhale gedokumenteer van mense in Rwanda wat met mekaar versoen het nadat die een persoon die ander se familie vermoor het. Maar hierdie het my hart die meeste aangegryp: Jeremy en ‘n span het Uganda besoek, waar hulle met kinders van so jonk soos sewe jaar oud gewerk het wat ontvoer is en as kindersoldate opgelei is. Deur middel van kuns en ‘Photoshop’ het Jeremy die ervarings wat hulle geteken het (soos ‘n sewejarige dogter wat haar eie ma moes teregstel en wie se bababoetie voor haar oë vermoor is) lewe gegee deur hulle kuns in ‘n tipe animasie te omskep. Daarna neem hy foto’s van die kinders, verander die foto’s in kuns en verkoop dit, sodat die kinders met die wins die nodige terapie kan ontvang.

As hierdie man gestop het deur wêreldberoemde persone af te neem, het hy beslis die hoogste sport in sy bedryf bereik. Die probleem is: sy gawes en vermoëns sou nie ‘n hoër doel gedien het nie. Vandag is sy storie inspirerend en geloofwaardig, want hy het gekies om meer te wees. Hy het enduit geglo dat hy tot alles in staat is deur Christus wat hom die krag gee.

In ons soeke na sukses kan ons maklik padlangs verveeld raak. Wat is jou hoër doel, of ‘greater purpose’?

Ons wil so graag vir ons kinders die geleenthede bied om te floreer. As ons hulle werklik wil bekragtig, moet ons hulle aanmoedig om altyd die hoër doel te soek en na te streef.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page