top of page

Gepekelde vis en paasbolletjies

Oorspronklik 28 Maart gepubliseer

Sonder twyfel die belangrikste naweek in die Christelike kalender, is Paasnaweek.

Deur die loop van ‘n naweek herleef ons die gebeure wat ons wêreld vir ewig sou verander!

Deur saam brood te breek en wyn te skink, dink ons in die besonder na oor Jesus se liggaam wat vir elkeen van ons gebreek is, en sy bloed wat vir ons gevloei het. Is dit nie ‘n fantastiese gedagte dat die simbool van brood en wyn oor duisende jare nogsteeds relevant en toeganklik vir elkeen van ons is nie? Brood en wyn het oor millennia behoue gebly, net so die liefde, genade en ontferming van ons Here, Jesus Christus.


Tim Keller verduidelik op ‘n baie spesiale en eenvoudige manier hoe ons deur die kruisdood en opstanding van Jesus geregverdig is. Hy praat van “from imputed righteousness to imparted righteousness”; met ander woorde, deur die kruis is ons gered en geregverdig, maar as ons dit werklik glo en daaraan vashou met alles in ons, dan gaan ons mos nie kliphard probeer om vanuit ons eie klein pogings reg te lewe nie! As Christus die perfekte paasoffer was, waarom sou Hy van ons verwag om daarna weer uit eie krag te leef? Dit is wat “imparted righteousness” beteken: deur die Gees leef ons elke dag vanuit die wete en die realiteit dat Jesus reeds alles gedoen het sodat ons kan leef as sy volgelinge. Nie ek nie. Nie harder probeer nie. Ons vertrou in Christus vir lewe en groei.  



‘n Spesiale, eg Suid-Afrikaanse, Kaaps-Maleisiese gebruik is om op Goeie Vrydag gepekelde vis en paasbolletjies saam te eet. Die asyn in die vis herinner gelowiges aan die suur wyn wat Jesus aan die kruis gedrink het.

Hierdie mooi gebruik herinner my ook aan dié keer wat Jesus, volgens die evangelie van Johannes, die derde keer na sy opstanding aan sy dissipels verskyn het terwyl hulle visgevang het. Daar was reeds vis op die kole en vars brood op die strand. Jesus wou saam met sy volgelinge kuier en het hulle genooi om saam met hom te kom eet. Na hulle spesiale tyd saam, doen Jesus ‘n besondere ding vir Petrus: hy spreek hom nie net vry omdat hy Jesus verloën het nie; Jesus herstel sy waarde as geliefde kind van God en Hy gee vir hom ‘n unieke opdrag om vir die res van sy lewe as sy gestuurde leier en verteenwoordiger te werk.   

Die meeste van ons gaan hierdie naweek êrens aan tafel wees saam met spesiale mense. Leer by Jesus: koop die tyd saam uit. Bevestig mekaar se waarde in Christus en erken Jesus as die gasheer aan jou tafel!

Geseënde Paasnaweek vir jou en jou geliefdes! 

コメント


Recent Posts
bottom of page