top of page

Gedagtes oor goeie selfoongebruik. (JZ de Jager)

Oorspronklik 22 April 2022 gepubliseer.


Ek dink die ander dag terug aan die heel eerste selfoon wat ek gekry het. Ek onthou ek was in Gr. 11. Ek onthou dit was ‘n telefoon wat my ouma vir my gegee het. Ek onthou dat die telefoon net 20 boodskappe op ‘n slag in sy inbox kon hê, want dan kry ek ‘n boodskap wat sê dat die foon se geheue vol is. Ek onthou dat ek hom elke aand afgesit het, omdat hy niks anders kon doen as SMS’e stuur en bel nie.

Ek onthou ook hoe daar gesprekke plaasgevind het in terme van selfoon gebruik en selfoon etiket. Dit was belangrik om hierdie gesprekke te hê, want ons het beweeg van ‘n tyd waar daar een landlyn telefoon in die huis is na ‘n plek waar daar skielik 4 of 5 verskillende selfone was. Dit was maklik om vir mekaar te sê dat etenstyd kosbare familie tyd is en daarom antwoord niemand die landlyn in die gang terwyl ons eet nie. Maar dit het moeiliker geraak toe ons almal selfone gehad het, want skielik is die telefoon saam met ons aan tafel.

Soos wat selfone se tegnologie verbeter het, het die tyd wat ons op ons eie selfone spandeer net al hoe meer geword. Want ‘n selfoon is nie meer net ‘n middel vir kommunikasie nie, maar dit is ‘n dagboek en ‘n bron vir navorsing en die plek waar ons Bybel lees en nog baie ander dinge. En die gevolg hiervan is dat een persoon baie keer vir ‘n ander persoon hierdie volgende woorde moet sê: moenie soveel tyd op jou selfoon spandeer nie.

In ‘n gesprek die ander dag wat ek met ‘n gesin gehad het vertel een van die kinders dat hy al moeg is om te hoor dat hy nie soveel tyd op sy selfoon moet spandeer nie. Sy woorde aan ons was iets soos: Moenie vir my sê dat ek minder tyd op my selfoon moet spandeer nie. Leer my eerder hoe om my foon reg te gebruik.

Hierdie woorde het my laat dink aan hoe ek geleer is om ‘n selfoon te gebruik, maar dit laat my ook nou al dink hoe ons ons kinders en selfs ons kinders sal wil leer hoe om ‘n selfoon te gebruik. Wat kan ons doen?

Begin met die einde in sig. Dit is seker ‘n beginsel wat op verskillende vlakke in die lewe gebruik kan word. Wat wil ek hê moet my kinders eendag vir my sê oor my selfoongebruik?

Leer om jou foon te beheer, moenie dat jou foon jou beheer nie. Ek onthou hoe my ouers ons geleer het om te evalueer of iets vir ons goed is of nie. Is dit wat ek sien of hoor of doen opbouend of afbrekend vir my as mens? Laat dit my goedvoel of laat dit my nie goed voel nie?

Kom ek gebruik ‘n voorbeeld. Ek sien dat my kind/kleinkind baie tyd op hulle foon spandeer. Ek het die keuse om deur my reaksie op hulle foon gebruik die verhouding te bou of te breek. In plaas daarvan om hulle van hulle foon af te kry kan ek probeer om in hulle virtuele leefwêreld in te gaan. Ek kan dan saam met hulle na die videos kyk waarna hulle kyk of probeer leer waaroor die speletjie gaan wat hulle so gereeld speel. Vanuit hierdie posisie kan ek dan vrae begin vra sonder om krities te wees en sonder om enige iets te insinueer. As hulle opvoeding-fondasie sterk is dan behoort hulle baie goed te weet wat die verskil is tussen reg en verkeerd en die verskil tussen goed en sleg.

Wees bedagsaam teenoor ander. Ons kan maklik na iemand anders kyk en dink hoe goed of sleg hulle selfoon gebruik is. Maar soms moet ons nie vingers wys nie en eerder na onsself kyk. As ek wil hê dat my kinders minder tyd op hulle fone spandeer, is dit iets wat hulle by my moet sien. Voordat ek iemand iets kan leer moet ek dit tog self kan doen. As ek byvoorbeeld nie wil hê iemand moet hulle telefoon antwoord wanneer ons aan tafel is nie, dan is ek ook veronderstel om dit nie te doen nie.

Ek kon seker ‘n hele lys dinge genoem het van hoe ons selfone moet gebruik, maar binne hierdie drie dinge wat ek genoem het lê daar ‘n magdom ander dinge wat ek nie genoem het nie en jy kan jou prentjie self inkleur met hierdie drie dinge as basis. Op die ou-einde wil ons hê dat daar goeie verhoudings moet wees waarbinne elkeen moet veilig voel. Die gesindheid waarmee ek selfoon etiket en selfoon gebruik gaan benader gaan ‘n groter rol speel as enige reëls.

Filippense 4 8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

Mag hierdie vers in Filippense 4 vir ons ‘n wegspring plek wees van hoe ons nou al dink en werk na ‘n sekere punt toe. Mag hierdie vers ons aanspoor om seker te maak dat niks anders ons lewe beheer nie maar dat ons sal leer om alle dinge in ons eie lewens beter te beheer. Mag hierdie vers ons aanspoor om mekaar in ag te neem want die verhoudings waarbinne ons staan het dit baie nodig.

Comments


Recent Posts
bottom of page