top of page

Gebalanseerde menswees (JZ de Jager)

Oorspronklik 30 Julie 2021 gepubliseer


Wanneer laas het jy ‘n pap band gehad? Op ‘n fiets of ‘n kar of ‘n waentjie, dit maak nie eintlik saak nie. Wanneer ek ‘n pap band sien is daar ‘n paar gedagtes wat by my opkom, en meeste van dit is nie positief nie. Want mens besef daar lê werk voor om die band te vervang. Tog, wanneer mens na die pap band kyk dan lyk dit of dit net die onderste deel van die band is wat pap is want dit is die deel van die band wat die meeste gewig dra.

Ek wil ‘n band of ‘n wiel gebruik as ‘n metafoor van ‘n mens se lewe en hoe ons kan probeer om ‘n gebalanseerde lewe te leef. Kom ons sê dat ons lewe uit vier dele bestaan, naamlik: Geestelik, Fisies, Emosioneel en Intellektueel. Wanneer ons aan hierdie vier dele aandag gee behoort ons redelik gebalanseerd te wees en behoort ons te kan beweeg. Die teendeel is ook waar dat wanneer al die dele nie aandag kry nie dan is dit soos ‘n pap wiel wat net nie verder wil beweeg nie.

Hoe bou ek in my lewe in sodat ek gebalanseerd sal wees maar ook sodat ons ons kinders kan help om gebalanseerd te leef?

Geestelik – Ek glo dat meeste van ons hierdie liedjie ken: “lees jou Bybel, bid elke dag…” Dit is so eenvoudig soos die liedjie sê, maar ook nie altyd so eenvoudig nie. As ons sê dat ons kinders van die Here is dan moet ons erns maak met ons verhouding met die Here. Dit veronderstel dan dat jy sal maak soos die liedjie sê en elke dag tyd inruim om met God te spandeer.

Fisies – In ons eie lewe het ons al agter gekom hoe belangrik dit is om fisies aktief te wees. Wanneer ons in ons eie huis vir ‘n paar dae nie aktief was nie dan kan ons agterkom dat daar ‘n krapperigheid kan wees. Wanneer ons fisies aktief is raak ons ontslae van dinge binne ons wat ons baie keer lam kan lê.

Emosioneel – Hierdie deel van ons menswees is seker die een deel wat die heel minste aandag kry. Goed, dit is baie keer so dat wanneer mens aktief is kan dit help dat ons emosioneel beter voel, maar dit is net ‘n pleister wat mens op plak en nie uitkom by die dinge wat regtig saak maak nie. Hoe kan ek emosioneel stabiel of intelligent wees? Daar is ‘n paar dinge waarop ek kan fokus: selfbewustheid, wees bewus van hoe jy voel en waar jy jouself bevind en wat in jou gedagtes aangaan; self regulasie, weet wat jy nodig het om jou emosies en jou denke te reguleer; motivering, weet watter motivering jy nodig het om te doen wat gedoen moet word. Die eerste drie dinge gaan baie oor jouself en die volgende twee dinge fokus na buite, naamlik empatie, dit is om jouself in iemand anders se skoene te probeer plaas en te voel soos wat hulle voel; sosiale vaardighede, ons as mense is nie gemaak om in isolasie van ander te leef nie en daarom gaan daar dinge gebeur waarop ons moet reageer. Jy moet so veel as moontlik vaardighede aanleer om sosiaal vaardig te wees.

Intellektueel – Ek is oortuig daarvan dat mens nooit kan ophou leer nie. En dit beteken nie dat jy moet aanhou studeer en meer grade verwerf nie, dit beteken eerder dat jy moet aanhou om jou brein te stimuleer. Dit kan wees om ‘n nuwe kuns aan te leer soos om te skilder of ‘n musiek instrument te bespeel. Dit kan wees om jou belangstellingsveld te verbreed en wyer te lees as jou beroep. Dit kan wees om legkaarte te bou, blokkiesraaisels in te vul of Sudoku te leer speel.

Ons dade spreek baie keer baie harder as ons woorde, en wanneer ons ons kinders so wil grootmaak dat hulle gebalanseerd lewe maar ook eendag gebalanseerde grootmense is, is dit nodig dat hulle by ons moet sien dat ons vaardighede het om gebalanseerd te wees.

Kom ek vra jou ‘n paar vrae:

Wil jy hê dat jou kinders geestelik moet groei? Dan moet hulle by jou sien dat jy ook geestelik groei. Baie van ons lees die Bybel op ons telefone. Dit is gerieflik om dit so te doen, maar wat sien die kinders? Sien hulle dat ek Bybel lees of op my foon besig is? Kry byvoorbeeld ‘n Bybel wat jy net saam met jou kinders lees of maak ‘n tyd waar julle as gesin saam kan Bybel lees en daaroor gesels en dan saam bid.

Wil jy hê dat jou kinders ‘n aktiewe leefstyl het? Dan moet hulle by jou sien dat jy ook probeer om dit te doen. Om te stap of fiets te ry kan ‘n lekker gesinstyd wees.

Wat sien jou kinders in jou sosiale vaardighede? Wat hoor hulle wanneer iets met jou gebeur het? Leer jou kinders om hulle emosies uit te ken en te verstaan. Leer jou kinders om hulle eie emosies te reguleer.

Wil jy hê dat jou kinders intellektueel gestimuleer word? Dan moet hulle dit by jou sien. Ek onthou hoe ons in ons grootword jare die bordspel Scrabble gespeel het. Daar het ek baie nuwe woorde geleer en die kompetisie en die neerskryf van die tellings was altyd lekker. Vul ‘n blokkiesraaisel in en moenie ophou wanneer dit moeilik raak nie. Bou ‘n legkaart saam met jou kinders op die eetkamertafel en gooi dit toe wanneer julle moeg raak en bou môre weer verder.

Van al die kere wat ek al ‘n band moes ruil was dit vir my die beste wanneer daar iemand langs my was. Nie noodwendig om my te help nie. Ook nie om my raad te gee nie. Maar eerder net die daar wees en deel wees van die proses. So is dit in die lewe ook. Dit is lekkerder as daar mense rondom ons is wat die pad saam met ons kan stap. Wat saam met ons kan groei en ons kan aanmoedig wanneer ons dalk sou sukkel. Dit laat my dink aan wat die Prediker skrywer van praat in Prediker 4 – Hy sê dat twee altyd beter vaar as een en dan sluit hy af met die woorde wat sê dat ‘n driedubbele tou nie breek nie. Ons kan op God en ons naby verhoudings staatmaak om ons te help om by ‘n gebalanseerde lewe uit te kom.

Mag hierdie reis na gebalanseerde menswees vir jou en jou gesin ‘n wonderlike ontdekkingsreis wees.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page