top of page

Een klasfoto, baie emosies (JZ de Jager)

Oorspronklik 14 April 2023 gepubliseer


In die week wat verby is kry ons ons jongste se klasfoto’s wat verlede kwartaal geneem is. Ons kyk na die foto en staan eintlik verstom oor hoe mooi hy geglimlag het vir die persoon wat die foto’s geneem het. Hy gaan tans deur ‘n fase waar ons hom soms moeilik oortuig om mooi te glimlag wanneer ons self probeer foto’s neem. Ons besef kinders gaan deur fases en ons moet hulle emosies respekteer en dat dit iewers gaan beter gaan, maar ons kan ook nie help om soms ongeduldig te word as ons ‘n oomblik wil vasvang en hy wil nie noodwendig saamwerk nie – al weet ons dit help nie.

Ek het twee dinge beleef toe ek die foto’s sien. Die eerste ding wat ek beleef het was ‘n gevoel van oorweldigende liefde vir hierdie blondekop-blou-oog seuntjie van ons. Die tweede emosie wat ek beleef het was ‘n groot stuk dankbaarheid. Ek sê vir Karla terwyl ek na die paar foto’s kyk dat ons as ouers seker nie altyd die vrug op ons arbeid sien nie. Baie mense het al vir ons gesê dat kinders anders is by die huis as by die skool of by familie. Ek sê vir Karla ek is so dankbaar om te sien dat hy toe wel die goeie maniere uitleef wat ons ons kinders probeer leer deur dit self te leef.

Hierdie gedagtes het my toe ver terug gevat na gesprekke wat ons met ouers gehad het voordat ons self kinders gehad het en toe ons kinders nog baie kleiner was as nou.

Een persoon het hulle filosofie van kinders grootmaak aan ons probeer verduidelik deur middel van ‘n beeld uit die wêreld van voëls. Voëls maak hulle kleintjies groot met die idee dat hulle moet leer vlieg. Die kuiken gaan deur ‘n hele proses om groter en sterker te word en dan kom daar ‘n tyd wat die ouer die kleintjie aanmoedig om te probeer vlieg. Gewoonlik grens die eerste probeerslag aan ‘n ramp en die ouers moet ingryp. Maar mettertyd word die kleintjie groter en sterker en op ‘n dag kan die kleintjie wat nou groot is self vlieg en teen die tyd wat dit gebeur het hulle alles gekry wat hulle nodig het om self verder te oorleef. Hierdie vrou besef dat ons kinders nie soos voëls is nie, maar in ‘n mate is dit wat ons rol as ouers is. Ons moet ons kinders voorberei vir die lewe buite die ouerhuis. Ons moet op ‘n manier vir ons kinders vlerke gee en leer om te vlieg sodat ons eendag hulle kan stuur in die wêreld in kan stuur met die wete dat ons alles in ons vermoë gedoen het om vir hulle te gee wat hulle nodig het om ’n sukses in die grootmens wêreld te maak.

Ek was eendag in ‘n gesprek met ‘n ma wat ‘n tweeling groot gemaak het. As ek reg onthou het ons op daardie stadium al ons tweede kind gehad en die aanpassing was groot. Ek vra toe vir die ma hoe sy dit reggekry het om twee gelyktydig groot te maak – want vir ons was die peuter en nuwe baba ‘n groot uitdaging. Sy deel toe met my hoe hulle dit gedoen het en soos wat die gesprek vorder begin sy deel wat hulle filosofie is vir kinders grootmaak. Hulle strategie van kinders grootmaak kom neer op: start with the end in mind.

Dit is dalk nie vir almal voor die handliggend dat mens ‘n plan moet hê wanneer jy kinders groot maak nie, tog kan mens nie anders as ‘n plan te hê nie.

Hierdie plan gaan nie oor jou droom vir jou kind in die sin dat hulle ‘n dokter moet word of professioneel moet sport doen nie. Hierdie plan gaan oor die tipe karakter wat jy wil hê jou kind moet eendag hê.

Jannie Putter het die boek geskryf Wen ‘n hart. Dit is ‘n handleiding vir afrigters, onderwysers en ouers. Hy skryf iewers in die boek oor dit wat baie kinders laat uitstaan in sport of akademie in die laerskool. Dan iewers in die hoërskool word die speelveld bietjie meer gelyk. Na skool, wanneer daar byvoorbeeld na professionele atlete gekyk word skryf hy dat talent net ‘n gelykmaker is. Wat iemand op daardie vlak laat uitstaan is nie meer net hulle talent nie, maar eerder hulle karakter.

Paulus skryf ‘n baie belangrike ding in Galasiërs 6 wat vir my selfs van toepassing is op kinders grootmaak. Gal. 6:7 “Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.”

Mag jy ook eendag met ‘n gevoel van diep-dankbaarheid na jou kind se foto of lewe kyk en besef dat dit wat julle ingesit het hulle gereed gemaak het om kinders van die Here te wees en wie se lewens straal van goeie karakter.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page