Do not fret
(Oorspronklik 3 Julie 2020 gepubliseer)
Toe ek jonger was, het ek voëlkykers in die wildtuin verpes! Ek kon nooit verstaan hoe mense kon stop en so lank staar na 'n voël nie. Intussen het ek een van hulle geword...
Gister, op pad na 'n oom se plaas toe, ry ek verby 'n klomp boskraaie wat in 'n boom langs die pad sit. 'n Boskraai is nie iets wat 'n mens aldag sien nie, so ek is sommer opgewonde toe die klompie begin wegvlieg toe ek verbyry. Daar misgis een van die ouens hul toe met 'n elektriese heining, en die storie het nie 'n mooi einde nie. Ek was sommer ontsteld.
Ek probeer om meeste aande voordat ek gaan slaap, 'n op en 'n af te identifiseer en dit dan in my gedagtes en in gebed deur te werk. Die boskraai is vir my 'n hengse af en ek kan nie die arme oorle voël uit my gedagtes kry nie.
Vanoggend bring my liewe kat vir my haar nuutste vangs; 'n piepklein fret. Die arme ding is so verboureerd en my kop is sommer weer terug by gister se boskraai-ervaring. Gelukkig kan ek die fret by my kat afsmeek en ek kan in my hand voel die klein voëltjie het darem nog 'n bietjie skop.
Ek los toe vir klein fret in die tuin en binne 'n paar oomblikke vlieg hy weg. Gister het 'n voël my ontstel; vandag is ek dankbaar vir 'n klein voëltjie wat 'n tweede kans kry.
'n Fret was nog op my afneem-lysie, maar hul is so klein en rats dat ek dit nog nie mooi kon bemeester nie. Vanoggend hou ek een in my hand vas en ek sien hom in die fynste detail raak.
Ironies genoeg, lees ons in die Woord (in Engels): "Do not fret." (Filippense 4:6). En ook dat die voëls van die hand (of is dit nou die klou) na die mond leef, en hulle maak dit... hulle is OK.
So saam met die (soms hengse) awwe en oppe in ons lewe kan ons maar onthou: die Here weet. Die Here is hier. Die Here sorg.
Comments