top of page

Dissipline wat herstel (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 29 Januarie 2021 gepubliseer


Dissipline… ‘n woord wat vir baie van ons soveel negatiewe konnotasies het.

Wanneer jy aan hierdie woord dink, watter negatiewe ervarings kom by jou op? Die meeste van ons was een of ander tyd as kinders aan die ontvangkant van verwronge dissipline.

Tog is liefdevolle, gefokuste dissipline so skaars en belangrik vir elke gesin.

Andy Stanley het onlangs in ‘n reeks oor ouerskap ‘n paar waardevolle riglyne genoem wanneer ons dissiplineer.

Een van die riglyne was dat ons moet onthou: ongehoorsaamheid affekteer meestal ‘n verhouding of verhoudings.

Dit is eintlik so ‘n logiese punt om te maak, maar een wat krities belangrik is. En dit geld nie net vir kinders nie. Hoe dikwels is ons nie al geraak deur ‘n volwassene se gedrag nie. Iemand daag nie op vir ‘n afspraak nie, die persoon wat eintlik probleme met aggressie het, haal dit uit op ‘n ander motoris, jou huweliksmaat kies sy vriende Vrydagaande bo sy gesin.

Daarom is dit so belangrik dat ons, wanneer ons ons kinders dissiplineer, daarop sal fokus dat die verhouding(s) herstel moet word. Ons wil tog kinders grootmaak wat, wanneer hul volwassenes is, ten volle die effek van hul gedrag raaksien en erken.

Dit is maklik om te hok of my kind van ‘n voorreg te ontneem, maar om ‘n verhouding te herstel deur die manier hoe ons dissiplineer, vra soms ‘n bietjie meer kreatiwiteit. Op die lange duur, leer ons ons kinders om respek en deernis vir ander te hê. Ons wyse van dissiplinering moet, wanneer dit moontlik is, vir ons kinders leer wat die effek van ons gedrag teenoor ander is.

Wanneer jou kind dalk byvoorbeeld in die toekoms ‘n onderwyseres, ‘n versorger of skoonmaker met disrespek hanteer, dink aan ‘n vorm van dissipline wat:

*Fokus op die feit dat ‘n verhouding skade gely het

*Fokus op die effek wat die disrespek sou kon hê op die ander persoon

*Fokus op die herstel van daardie verhouding

*Fokus daarop dat jou kind jammer sê vir haar/sy gedrag (noem dit op die naam), en vir die effek wat die gedrag gehad het

Om ‘n verhouding te herstel ná ongehoorsaamheid of disrespek, is die harde werk wat dit op die ou einde die moeite werd maak.

Soms is ons as ouer skrikkerig om gefokus dissipline toe te pas; veral wanneer ons kinders ouer raak. Ons wil tog hê dat ons kinders van ons moet hou! Maar deur jou kind te dissiplineer en soms nee te sê wanneer maatjies se ouers dalk ja sê, red jy dalk net sy lewe!



Comments


Recent Posts
bottom of page