top of page

Dis Kerssangdiens seisoen! (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 1 Desember 2023 gepubliseer


Dis Kerssangdiens seisoen!

Oral sien ek foto’s van Kerssangdienste wat beplan word of afgehandel is. Van grootse vertonings met duisende mense tot klein plattelandse groepies mense wat iets moois en betekenisvol wil skep; almal het tyd gemaak (dikwels in ‘n program wat reeds oorvol is met afsluitings en ander verpligtinge) om saam te vertel en te sing oor die Lig wat skyn in die duisternis, dié Lig wat nie uitgedoof kan word nie.

Ek weet nie van jou nie, maar ek het veral hierdie week nodig om dít raak te sien. Ek lees van ‘n ma en negejarige seuntjie wat saam vermoor is, 12 myners wat nie nog ‘n slag Kersfees saam met hulle geliefdes sal kan vier nie, gewapende rowe, inbrake en ‘n wêreld waarin ons al so gewoond geraak het aan oorlog (in byvoorbeeld Soedan en Oekraïne) dat daar nie meer té veel berigte daaroor ons oë bereik nie. Ons het ‘n intense behoefte aan dit wat goed en mooi en reg is, want ons word soms oorval met die teendeel.



Ek het sommer tong-in-die-kies gewonder hoeveel mense hulle hierdie jaar by ‘n Kerssangdiens oefening vir iemand anders vervies het! Jy sien, ons wat hou van mooi maak en kunstig wees is ook soms sensitiewe siele! Hierdie tipiese verviesings (wat eintlik oral hierdie tyd van die jaar die geneigheid het om kop uit te steek) is gewoonlik darem kortstondig en later lag ons daaroor, want ons het almal gekies om saam te kom om iets te vier, iets te skep wat soveel groter is as onsself. Die wonder van ‘n Kerssangdiens is dit: gewone, gebroke mense bring hulle gawes en skep saam iets goddelik!

Die temas van Advent waarop ons fokus is dit wat ons juis nou so baie nodig het in ons wêreld: hoop, vrede, vreugde en liefde.

Met elke lied wat ons saam sing, elke instrument wat met sorg en deeglikheid bespeel word, elke kers wat aangesteek word, lê ons eintlik ‘n verklaring af: ons glo dat daar nog hoop is, ons beywer ons steeds vir vrede, ons kies om ons harte te rig tot vreugde met ewigheidswaarde en ons getuig dat liefde sal wen in ons lewens.

Mag die aanloop tot Kersfees jou hart instem op dit wat ewigheidswaarde het, as jy kinders of kleinkinders het, prikkel hulle vrygewigheid sintuig en gaan leef die Christusfees alternatief hierdie Desember!

Komentáře


Recent Posts
bottom of page