top of page

Dink sommer vandag oor betekenis! (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 1 Oktober 2021 gepubliseer


In ‘n onlangse gesprek met ‘n wyse man het die boek ‘Halftime’van Bob Buford ter sprake gekom. Dié oom noem toe dat die skrywer heelwat aandag skenk aan die woorde ‘Success vs Significance’. Die gedagte is min of meer dat sommige mense vir baie jare in hul lewe daarop fokus om op verskillende terreine sukses te behaal, maar wanneer ‘n mens by die sogenaamde ‘halftyd’ van ons lewens kom, dat ons meer vrae begin vra oor hoe ons betekenis kan bied en nalaat.

My reaksie was dat ons daardie hoofstuk in die hande van vyftien-jariges, en nie vyftig-jariges nie, moet kry!

Kan ons ooit sê dat ons werklik suksesvol was as dit wat ons gedoen het, nie gevul was met betekenis nie?

Vrae oor betekenis is seker van dié belangrikste vrae wat mense dikwels vra. Hoe lyk betekenis? Waar, en hoe, moet ek myself posisioneer sodat my lewe die meeste betekenis kan bied?

Vir dié van ons wat in Jesus glo, kan ons betekenis soek in sy lewe en sy woorde. As elkeen van ons kies om op ‘n daaglikse basis na te dink oor die lewe van Jesus en sy woorde toe te pas, sal ons lewens van betekenis lei.

Ons het die voorreg om ons kinders te begelei op die pad van betekenis. Soos wat hul ouer word en vrae begin vra oor hul eie identiteit en roeping, kan ons hul ondersteun in die soeke na die ‘sweet spot’ tussen sukses en betekenis. Sonder betekenis, is sukses eintlik maar net selfsug.

Die lewe is onvoorspelbaar en kort. Ons kan nie dekades wag voordat ons vrae begin vra oor betekenis nie. Kom ons doen dit sommer vandag nog.

Comments


Recent Posts
bottom of page