top of page

Die waardevolste geskenk vir jou en jou geliefdes (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 5 Mei 2023 gepubliseer


Om enigiets oor gebed te skryf is vir my ‘n uitdaging. Kom ons sê maar net ek kan nogal assosieer met Jesus se vriende wat aan die slaap geraak het toe Jesus hulle gevra het om saam met hom te waak en te bid. Tog is dit vir my een van die grootste wonders dat ons, as feilbare, piepklein mense kan kommunikeer met die God van die ganse heelal, en die Bybel herinner ons dat Hy nooit oorweldig word deur almal se gebede nie. Hy mis nie een gebed nie.

Ek lees onlangs hierdie woorde deur Henri Nouwen raak: “Who will I be when I stand before You with empty hands? Please help me to gradually open my hands; and to discover that I am not what I own; but what You want to give me.”

Ons voel veilig wanneer ons aan iets kan vashou. Soms is dit ons geld, maar dikwels hou ons vas aan dinge wat ons in beheer laat voel. Ons voel seker van wie ons is wanneer dinge verloop soos wat ons daarmee gemaklik voel. Soms voel ek veilig en seker in my rol as eienaar van ‘n besigheid, bestuurder van ‘n span, ander kere voel ek veilig wanneer mense dit wat ek kan bied of skep raaksien en waardeer. Baie van ons voel goed wanneer dit met ons kinders goed gaan. Maar, soos Henri Nouwen vra, as ek hierdie dinge met ‘n oop hand laat gaan, wat is dan oor? Voel ek dan nog veilig?

Ek het ‘n ongemak met gebede wat dit laat klink asof ons die vermoë het om deur ons gebede te beheer: as ek reg bid, hard of lank genoeg bid, met “genoeg” geloof bid, dan sal die dinge wat ek versoek, gebeur, of uiteindelik uitwerk soos wat ek wil hê. Ek raak ook ongemaklik as dit vir my voel dat ons glo die bose is op die punt om die stryd te wen, en ons moet onmiddellik met mag en mening intree. Soms voel dit vir my ons bid asof Jesus se woorde aan die kruis: “Dit is volbring…” nie heeltemal voldoende was nie.

Ons gebede het krag. Ek glo dit onomwonde, maar die krag van ons gebede lê in die feit dat die Vors van krag óns ken. Dit het bitter min met ons vermoëns te doen.

As ouers is een van ons grootste bekommernisse hoe ons kinders kan leef en floreer in ‘n wêreld met soveel boosheid en seer. Ons wil so graag ons kinders se onskuld beskerm, want ons weet hoe dit voel om dit te verloor. Gebed is vir ons as ouers ‘n geskenk. Gebed bied aan ons die geleentheid om elke dag, soos Hanna met Samuel gedoen het, ons arms en ons hande oop te maak en ons kinders aan die Here toe te wy. Dit is sekerlik een van die bevrydendste dinge wat ons kan doen! Om elke dag te erken dat dit beter is om ons kinders aan die liefdevolle Vader en Skepper van die heelal toe te vertrou, is ‘n geskenk. Dit bied aan ons ‘n kans om asem te haal en te erken: “Here, ek kan nie, maar in U arms is die beste plek. Dankie dat U vandag saam met my kind is, soos wat U nou saam met my is.”

Dit is genoeg. Geen tien-punt plan om elke moontlike pyl van die bose af te weer nie. Dit is nie nodig nie. Die Here ken ons, en Hy ken ons kinders.

‘n Laaste stukkie raad vir die pad (veral vir Pa’s): bid vir jou kind…in haar/sy teenwoordigheid. ‘n Stotterende, eenvoudige, opregte gebed laat ‘n blywende indruk op jou kind. Deel die geskenk wat vir jou gegee is!

Comments


Recent Posts
bottom of page