top of page

Die tafel is nie net vir kos bedoel nie (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 20 Augustus 2021 gepubliseer


Ons is stadig maar seker besig om die einde van die jaar te nader. Kort voor lank gaan ons kersversierings in winkels begin sien! Dit is normaal om tydens enige jaar te sukkel met ons eie, en ons gesin se motivering soos wat die jaar einde se kant toe staan; gedurende ‘n jaar midde-in ‘n pandemie, soveel te meer.

Sprake dat die kort vakansie aan die einde van die derde kwartaal vir staatsskole moontlik kan wegval, dra beslis vir verskeie ouers, onderwysers en kinders by tot ‘n gevoel van lamheid. Of die vakansie nou gaan wegval of nie, die tafel kan ons help om as gesin te groei en mekaar te bemoedig wanneer ons wiele pap raak.

- Die tafel is ‘n skermvry plek!

Ons lewens word in ‘n groot mate deur skerms oorheers! Natuurlik is daar vele voordele aan skerms wat ons nie hoef te betwis nie. As dit nie vir skerms was nie, sou ons en ons kinders die afgelope ruk nie kon skoolgaan of werk nie. Maar navorsing wys ook dat ‘n oormaat skerms die hoofrede is dat tieners geïsoleerd en depressief voel; by verre meer as enige ander generasie. Die tafel bied ‘n spasie waar ons as gesin mekaar in die oë kan kyk en kan luister na mekaar.

- Die tafel is ‘n plek waar ons deel

Die tafel bied ook ‘n ruimte waar ons kan leer om met mekaar te deel. ‘n Eenvoudige ritme wat ons kan vestig, is om vir elkeen aan tafel ‘n kans te gee om een ‘op’, en een ‘af’ van hul dag te deel. Wanneer ‘n lid van die gesin iets deel, kan ons mekaar help om ‘n emosie te koppel aan wat gedeel is, bv: “Sjoe, jy moes seker baie gefrustreerd gevoel het toe dit gebeur het?” of “Hoe het jy gevoel toe julle vandag saam kon speel?”. As ouers hoef ons natuurlik nie ons kinders te belas met elke bekommernis wat ons het nie, maar dit is tog betekenisvol wanneer ons kinders sien dat ons ook 'n emosie kan deel. Uit ons voorbeeld leer hul ook hoe om te deel.

- Die tafel is ‘n plek waar ons bid

Baie van ons gesinne het die gewoonte om vir ons kos te bid. Ongelukkig is hierdie gebed soms min of meer die enigste blootstelling wat baie kinders in hul huise kry oor hoe om te bid. As ek as ouer nie my kind gaan leer om te bid nie, moet ek nie verbaas wees as hul eendag as volwassene nie ‘n aktiewe gebedslewe of verhouding met die Here het nie. Skep daagliks, of soos wat vir jul as gesin werk, ‘n geleentheid na ete waar jul saam met mekaar en vir mekaar bid. Maak jul gebede prakties en van toepassing op jul elke-dag lewe. Bid vir eksamens, jul werk, die hond wat siek is, dinge wat ons van hoor in die nuus, vriende en familie… enigiets wat jou en jou gesin gaan help om vir mekaar en vir ander te bid! Gebed is ‘n eenvoudige en kragtige manier om die las van bekommernis, stres of hartseer wat ons met ons saamdra, daagliks af te laai. Maak dit ‘n spesiale tyd! Steek ‘n kers aan, skakel die ligte af en leer jou kind dat die Here naby aan hul is en graag luister na ons.

- Die tafel is ‘n plek waar ons bemoedig en prys

Hierdie artikel het begin deur te verwys na mense wat moeg raak en uitsak soos wat die jaar aanbeweeg. Die tafel is ‘n stuk gereedskap om jou en jou gesin te help om jul gemoedere te lig. Probeer om doelbewus ‘n kompliment te bêre vir die etenstafel. Bemoedig mekaar deur gereeld iets uit te lig van ‘n persoon aan jou tafel wat hul gemoed sal lig. Maak ‘n groot ding van bemoedigende woorde en komplimente! Ons maak nie genoeg daarvan om mekaar in ons huise te vier nie! Sê vir mekaar dankie, prys mekaar en spreek lewe teenoor mekaar.

- Nooi betekenisvolle vriende na jou tafel

Maak ‘n punt daarvan om mense te nooi na jou tafel wat ‘n positiewe invloed op jou gesin kan hê. As ouers besef ons soms dat ons (veral vir ons tieners) die beste raad kan gee, maar wanneer iemand anders presies dieselfde raad gee, is hul meer ontvanklik daarvoor! Maak seker dat daardie persone nou en dan aan jul tafel kom kuier. Natuurlik kan ons ook ons gaste bemoedig met hoe ons tafel-tyd saam doen as gesin.

Mag gereelde tafel-tyd vir jou en jou gesin ononderhandelbaar wees. Aan tafel word ons op verskeie vlakke gevoed.

Comments


Recent Posts
bottom of page