top of page

Die pendulum van genade en dissipline (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 18 Augustus 2023 gepubliseer

Ons almal swaai rond op die pendulum tussen genade en dissipline.

Hoe meer ons pendulum genade én dissipline bereik, hoe beter.

Daar is sommige dae wat ons gerus kan uitkampeer by genade, ons het dit dikwels nodig. Dit is OK om nie OK te wees nie, inteendeel, dit is ‘n bybelse gedagte om te erken dat ons nie altyd OK is nie. Ons word in 2 Korintiërs 12:9 daaraan herinner dat God se genade vir ons genoeg is en dat sy krag juis tot volle werking kom wanneer ons swak is.

God se plan vir genesing, groei en betekenis behels wel ook dissipline. Wanneer ons toelaat dat God se genade tot volle werking in ons swakheid kom, lei Hy ons telkemale op die genadige pad van dissipline. Dit verander nie die feit dat ons genade met onsself moet hê nie; dit maak dit nog beter! Dissipline versterk genade. Hoe meer ons die Here toelaat om die genadige pad van dissipline saam met ons te stap, hoe meer gun ons eintlik onsself meer genade. Genade op die pad van dissipline is duursame, kosbare genade wat verandering te weeg bring.



‘n Paar voorbeelde:

- As ek besef dat ek onder druk of sekere omstandighede op vreemde maniere optree, mag ek maar genade met myself hê en erken dat ek soms ge’trigger’ word, dikwels as gevolg van iets wat in die verlede ‘n letsel gelaat het. My ‘trigger’ bly egter altyd my verantwoordelikheid. Die genadige pad van dissipline behels dat ek van my kant af die harde werk van genesing sal stap.

- Ouers kan in alle waarskynlikheid goed vereenselwig met die wisselwerking tussen genade en dissipline! Soos wat ons kinders ontwikkel is ons voortdurend besig om te probeer onderskei of ons kinders meer genade of dissipline nodig het. Die waarheid is, ons is nie altyd seker nie en ons tree as ouers dikwels op met die lig tot ons beskikking. Dalk is dit so dat ons kinders altyd genade én dissipline nodig het, hoe ons dit toepas bly ‘n lekker uitdaging!

- Die meeste van ons is besige wesens wat onder baie druk moet funksioneer. Die sisteme waarbinne ons beweeg vra baie van ons; werk, skool, aktiwiteite hou ons goed aan die gang. Daarom moet ons genade met ons eie lywe hê en onsself en ons gesinne toelaat om te rus. Die Sabbat is nie deur die Here uitgedink ter wille van Homself nie! Tog maak elkeen van ons elke week die besluit of ons gaan kies om in te skakel en deel te wees van ‘n geloofsgemeenskap, ‘n plek waar ek en my kinders saam met ander kan groei. Om ja te sê vir gemeenskap vra dissipline, en hoe meer ek ja sê daarvoor, hoe meer ontvang ek nog meer genade!

Dink saam met my oor hierdie twee woorde en jou eie genade en dissipline pendulum. Wat is vir jou uitdagend, waaroor wonder jy, wat wil jy graag meer van sien in jou eie lewe?

Genade vir jou! Jou feilbare lewe is die vrugbare grond waarop die Here kan boer met sy genade.



Comments


Recent Posts
bottom of page