top of page

Die lewe deur die oë van 'n kind (JZ de Jager)

Oorspronklik 21 Januarie gepubliseer


Ons het die voorreg gehad om so paar dae by die kus toe kon wees. En in hierdie paar dae het ons die voorreg gehad om amper elke dag op die strand te kon wees. En daar het ek en Karla ons kinders lank net dop gehou. Ons het gekyk hoe hulle speel, hoe hulle swem, hoe hulle grawe, hoe hulle rol, hoe hulle maats maak, hoe hulle ‘n klomp goed doen. Die beste van alles seker hoe hulle die lewe geniet.

Die weer was oor die algemeen goed, maar daar was ‘n keer of wat wat die weer bietjie gedraai het. Die eenkeer het die wind baie begin waai en ons het besluit om eerder na ‘n plek te ry waar ons koffie kon drink. Hulle het nie vir ons gesê ons moet eerder op die strand bly en kyk of die wind dalk ophou nie. Hulle het gehoor daar is ‘n plekkie waar hulle kan speel en hulle het saamgery en daar net verder gespeel. Die eenkeer wat dit begin reën het, het hulle nie gesê ons moet net onder die sambreel bly sit en wag totdat dit ophou reën nie, hulle het ons vertrou toe ons sê ons gaan na ‘n tipe van dieretuin toe en die tyd daar saam met ons geniet.

Hulle het elke dag voluit gelewe. Selfs die dag wat ons teruggery het en ons na ses of wat ure in die kar ‘n bietjie teëspoed gekry het. Hulle het nie gewonder oor hoe lank dit gaan vat voordat ons weer verder kan ry nie. Hulle het nie gewonder wat dit gaan kos nie. Hulle was in hulle element toe ons in ‘n Spur restaurant gaan sit en hulle net kon speel. En toe ons vir hulle sê dat ons nie verder gaan ry die dag nie maar eerder gaan oorslaap by ‘n vreemde plek het hulle nie begin huil nie. Inteendeel, toe hulle die plekkie sien waar ons gaan bly was hulle baie opgewonde, want daar was net een groot bed – en dit beteken dat ons almal baie naby aan mekaar gaan slaap. Wat meer kan ‘n kind voor vra? Toe ons die volgende oggend wakker word en ons wonder hoe laat ons in die pad gaan val en hoe ons nou als gedoen gaan kry wat gedoen moet word was Marissa se eerste woorde – pappa, kan ons nie maar nog ‘n aand in die huisie slaap nie?

Toe ek ‘n dag of wat later vir Marissa vra wat van die vakansie was die lekkerste en die tweede lekkerste het sy nie lank daaroor gedink nie. Die lekkerste vir haar was om by die groot branders te speel en die tweede lekkerste was die huisie waarin ons gebly het op pad terug huis toe.

Kinders se oë fokus op ander dinge as ons oë. Hulle sien dinge anders as ons. Hulle ervaar dinge anders as ons. Hulle leef die lewe anders as ons. En ek dink ons kan by hulle gaan leer hoe mens die lewe anders kan sien.

Hulle is meeste van die tyd

• Vol vreugde

• Vol verwagting

• Vol vertroue

• Onskuldig in hulle denke

• Nederig in hulle optrede

Ek kan baie sê oor al hierdie dinge, maar dalk moet jy vir ‘n oomblik dink hoekom ‘n kind vol vreugde is. Dalk moet jy vir ‘n oomblik dink wat dit beteken dat ‘n kind onskuldig is in hulle denke. Dalk kan jy vir ‘n oomblik dink wat dit beteken dat ‘n kind nederig is in hulle optrede.

In Markus 10:15 lees ons hierdie “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Kinders se uitkyk op die lewe is soveel anders. Hulle leef vol vreugde omdat hulle op ander dinge fokus. Hulle is vol verwagting en vol vertroue omdat hulle weet hulle ouers sal voorsien in so ver hulle kan. Hulle is onskuldig in hulle denke omdat die wêreld met sy dinge en probleme nog nie ‘n houvas het op hulle nie. Hulle is nederig in hulle optrede omdat hulle besef dat hulle beperkings het.

Mag ons anders na die wêreld kyk omdat ons weet dat ons ‘n Vader in die hemel het wat vir ons lief is en omdat Hy vir ons wil voorsien – ons moet net op Hom vertrou.

Comments


Recent Posts
bottom of page