top of page

Die kwessie van tyd (JZ de Jager)

Oorspronklik 19 Januarie 2024 gepubliseer


Die skole het begin en dit beteken die vakansie is nou eers verby. Sommige ouers het begin werk voordat die skole weer oopgemaak het en dit het in sommige huishoudings sy eie tydelike werksooreenkoms vereis.

Ek dink die een aanpassing wat kinders moeilik kan vind is die oorgang van almal is met vakansie na ek is met vakansie maar my ouers moet weer werk. Ek het dit self ervaar. Die een dag is ons nog heeltyd in mekaar se teenwoordigheid en dit is ontspanne en die volgende dag moet ek die kinders gereeld herinner dat ek moet werk, maar hulle kan speel. Sodra ek klaar is sal ek weer saam kan speel.

Ek dink meeste mense verstaan die verskil tussen kwaliteit-tyd en kwantiteit-tyd. Wanneer ons met vakansie is dan spandeer ons baie tyd saam – dit is kwantiteit-tyd. Maar dit is nie meer dieselfde wanneer ons terug is by die werk nie. Dan is die tyd minder, maar die tyd wat ons wel saam spandeer probeer ons kwaliteit-tyd maak.




Ek lees ‘n verhaal van ‘n seuntjie wat baie opgewonde na sy pa toe hardloop nadat die pa by die huis gekom het na ‘n lang dag se werk. Die seuntjie spring in die pa se arms in omhels hom. Nadat die pa hom weer neergesit het vra die seuntjie die pa ‘n baie vreemde vraag. Hy vra sy pa wat hy per uur verdien. Die pa is bietjie uit die veld geslaan en eintlik bietjie omgekrap oor die seuntjie se vraag. Nadat die pa mooi gedink het sê die pa vir die seuntjie dat hy ‘n sekere bedrag geld verdien. Nie lank daarna nie vra die seuntjie of hy die helfte van daardie bedrag by sy pa kan leen. Die pa stem toe in en gee vir hom daardie kontant. Die seuntjie hardloop na sy kamer toe, kry sy spaarbussie en gooi die geld uit. Versigtig tel hy al die geld bymekaar tot hy die bedrag het wat sy pa gesê het hy per uur verdien. Met hierdie bedrag geld in sy hand loop hy na sy pa toe en vra of hy ’n uur van sy pa se tyd kan koop.

Anthony Witham skryf die volgende oor kinders en tyd.

“Children spell love: T-I-M-E.”

Dit is nie altyd ewe maklik om die tyd wat kinders graag wil hê vir hulle te gee nie. Maar mag elkeen van ons daarna streef om wel tyd te maak omdat ons besef hoe belangrik dit vir hulle is om daardie tyd met ons te spandeer.

Commentaires


Recent Posts
bottom of page