top of page

Die harde, bevredigende bediening van versoening (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 18 Oktober 2020 gepubliseer


Is die nuus vals? Nee. Dit is goed om kennis te neem van ons konteks. En alles is nie soos wat dit moet wees nie. Allermins.

Daar is wel ‘n rykdom van stories wat daagliks geskryf word, waarop die nuus nie gaan fokus nie. Ook nie sosiale media met ‘n agenda om ons te verdeel nie. Soos die boer wat sy werkers met deernis hanteer en hul bemagtig om ‘n beter toekoms vir hul kinders te verseker. Of die onderwyseres wat op ‘n klein plattelandse skooltjie met die minimum hulpbronne, kies om elke dag haar leerders te dien. Of die wit en swart maatjie wat ‘imaginary friends’ ontmoet terwyl hulle sorgeloos saam speel.

Paulus herinner ons in 2 Korintiërs dat die bediening van versoening aan ons toevertrou is. Ons weet hoe versoening smaak; ons het dit al aan ons eie lywe gevoel. Maar die bediening van versoening in ons konteks is nie altyd eenvoudig of selfs lekker nie. Dit behels ook dat ons ongemaklike gesprekke sal voer, dat ek oop sal wees vir my eie vooroordeel en bevoorregting.

Versoening kan nie gebeur sonder verhouding nie. Dalk het dit tyd geword dat ons meer intensioneel kies hoe ons verhoudings, spesifiek oor kleur- en kultuurgrense, lyk. Dit is die harde werk van versoening, en dit is ons voorreg om as mense van die Jesus-weg deel te neem aan hierdie bediening. Dalk is ‘n koppie koffie met ‘n nuwe, “vreemde” gesig die beginpunt van ‘n mooi storie wat wag om geskryf te word.

Sosiale geregtigheid is vir mense van die Jesus-weg baie belangrik. Jesus se woorde oor die Koninkryk van God herinner ons dat daar altyd ‘n beter wêreld is waarna ons kan streef. ‘n Wêreld waar almal veilig kan saamleef, waar almal genoeg het en waar mense na mekaar omsien. Daarom kies ons om deel van die oplossing te wees. Nie net vir ‘n spesifieke groep mense nie, maar vir almal.

Daarom bid ons vandag spesifiek vir Senekal. En ons bid vir ons boere en plaaswerkers.

Maar ons bid ook wyer as die stories waarvan ons in die nuus lees. Ons sê dankie dat daar op voetsoolvlak baie inspirerende dinge gebeur. En ons bid dat die Koninkryk soos suurdeeg verhoudings sal bly transformeer.



Commentaires


Recent Posts
bottom of page