top of page

Die Goue Oues van Kersfees (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 14 Desember 2022 gepubliseer


Vir dié van ons wat in die voetspore van Jesus probeer loop, is Kersfees ‘n besondere tyd. Dit is beslis ook ‘n tyd waar ons mooi kan besin oor hoe ons hierdie tyd inkleur. Kersfees bied aan ons ‘n unieke geleentheid om weer te dink oor die intensie wat ons daaraan wil koppel.

Watter goue oues gaan hierdie jaar hulle verskyning maak aan jou Kersfees etenstafel? Beestong en mosterd? Trifle (oftewel koekstruif)? Skaapboud en peperment jellie? Gestolde slaai? Net soos dié staatmakers, is daar vier waardes wat vir my mooi met Kersfees saam loop:

1) Eenvoud.

Alhoewel Hy waardig was om ‘n grootse aankoms te verdien, het Jesus gekies om in alle eenvoud ons wêreld te betree. Dit kon sekerlik nie per ongeluk gewees het nie! Wat kan ons daaruit in ons eie lewens toepas? Kersfees hoef nie oordadig te wees nie. Inteendeel, dalk lê die sleutel tot ons viering saam juis in die eenvoud waarmee ons dit doen.

2) Viering.

Dit was vir die meeste van ons ‘n lang, intense, moeilike jaar. Ons was bekommerd, ons moes onsself staal teen baie uitdagings en ons is soms oorweldig deur slegte nuus.

Dit is nou die tyd om te vier! Gaan soek vir redes waarom ons saam kan vier.

Behalwe vir die voor die hand liggende (Jesus wat gekies het om ons wêreld te betree), kan ons mekaar vier. Vier hierdie Kersfees die mense wat ‘n sleutelrol in jou lewe speel, en doen moeite om dit vir hulle op ‘n spesiale manier te sê. Die meeste van ons het nie nog ‘n stel kouse of ‘n knipmes nodig nie. Wat ons almal na smag is dat iemand ons waarde sal bevestig.

3) Vrygewigheid.

Die Seun van die Mens het homself ten volle vir ons gegee. Die lig skyn in die duisternis en die duisternis kon dit nie uitdoof nie!

As ons ons kinders tydens Kerstyd iets met ewigheidswaarde wil leer, kan ons hulle leer om te gee. Ons kan die waarheid bevestig dat dit werklik ‘n lekkerte is om te gee. Hoe meer ons gee, hoe meer leer ons dat dit ‘n bevrydende gebaar is.

‘n Kollega van my het ‘n kersboks waarin haar kinders elke dag om die beurt iets uit hulle koskas en iets uit hulle speelgoed kas in die boks plaas. Wanneer Kersfees aanbreek, soek hulle ‘n gesin om dit voor te gee. Op watter manier kan jy hierdie Kersfees die waarde van gee beklemtoon?

4) Rus

Kerstyd is ‘n tyd van herlaai. Ons bedink die jaar wat voorlê, maar dit is ook goed om te reflekteer oor ‘n jaar wat verby is. Waarvoor is ons dankbaar? Waar het ons dalk die bal laat val? Waarvoor moes ons nee gesê het en waarvoor moes ons eerder ja gesê het?

Gebruik die dae rondom Kersfees om ook af te skakel. Het jy dalk nodig om vir ‘n rukkie te vergeet van jou e-posse, die nuus, en te fokus op dié dinge wat deur die loop van die jaar dalk agterweë gebly het?

Mag die Kerstyd vir jou en jou gesin ‘n tyd van rus wees: rus in dié Een wat ons wêreld betree het sodat die Lig ook in ons harte kan skyn!

Comments


Recent Posts
bottom of page