top of page

Die een dag waar selflose liefde moet wen! (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 11 Februarie 2022 gepubliseer


Kan jy onthou hoe Valentynsdag vir jou as kind was? Genadiglik kan ek nie té veel onthou nie; miskien was dit my liggaam se manier om trauma te onderdruk!

Daar was wel ‘n tyd wat ek ‘n Valentyns-rebel was. Inteendeel, ek is nogsteeds ‘n bietjie! Dit maak net nie vir my sin dat ons almal op een dag al die sjokolade, beertjies en blomme in elke moontlike winkel moet koop, en boonop teen pryse wat enige mens aan sy koffie sal laat stik nie!

My siening was nog altyd: gaan ons regtig wag totdat ons aangepor word om vir een dag liefde te bewys? Die teenargument is: as ek in elk geval my vrou elke dag gaan liefhê, kan ek sekerlik maar vir haar ‘n blommetjie koop (of pluk) op 14 Februarie ook.

Met kinders en tieners in die huis, kan ‘n dag soos Valentynsdag sommer vinnig in ‘n fiasko ontaard. My kind doen soveel moeite om vir iemand iets ouliks te doen, maar ontvang dan niks terug nie. Of ons kom agter ons kinders is eintlik nog nie opgewasse om enigsins oor romantiese liefde te dink, laat staan nog op ‘n gevoel te probeer reageer nie!

Ons het opsies oor hoe ons hierdie dag benader: ons ignoreer dit en raai ons kinders aan om nie veel aandag te skenk aan die dag en alles wat daarmee gepaard gaan nie. Of ons kan dit as ‘n leergeleentheid gebruik en seker maak dat ons weergawe van Valentynsdag met goeie betekenis gevul word.

Dalk kan jy begin deur jou kinders te vertel waar die dag vandaan kom? Baie kortliks: Volgens oorlewering, was Valentinus ‘n kerklike wat vervolgde Christene bedien het in die Romeinse tyd (derde eeu nC). Daar word ook gesê dat hy teen die wet Christelike paartjies getrou het. Valentinus het uiteindelik ook ‘n marteldood gesterf vir sy geloofsdade.

In Valentinus se lewe was daar klaarblyklik nie baie tyd vir sentimentele en selfsugtige liefde nie! Ook, natuurlik nie, in Jesus s’n nie.

Indien jy wil, gebruik die dag om jou kinders iets van liefde te leer wat die ekstra myl stap, liefde wat nie iets terug verwag nie; ook liefde wat oor veel meer gaan as net ‘n gevoel vir een persoon wat my oor vyftien jaar nie eers meer gaan onthou nie!

Indien jou kind wel van iemand hou, begelei hom om op ‘n ouderdomstoepaslike manier iets te doen of sê wat wys dat hy van daardie persoon hou en baie respek vir haar het. My mond hang egter oop, wanneer ek hoor dat ouers soms die mooi, onskuldige gevoelens van kinders wil ryp druk.

Dalk bied hierdie dag vir jou ‘n geleentheid om iets te doen wat ewigheidswaarde het. Bel ‘n bejaarde, reik uit na iemand wat alleen voel, reël ‘n lekker kuier-aand vir jou gesin. Solank die liefde wat ons by Jesus ontvang het, wat uit selfopoffering gebore is, die wenner bly!

Comments


Recent Posts
bottom of page