top of page

Avo's en genademaaltye (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 30 April 2021 gepubliseer.

As jy in die Laeveld bly, is avo-tyd bederftyd. ‘n Mens hoef nie vêr rond te snuffel om ‘n sakkie avo’s by ‘n boer teen ‘n gawe prys te kry nie!

Avo’s was die afgelope ruk die voertuig vir verskeie hoopvolle stories.

Soos die storie van ‘n man wat sy klomp avobome beskikbaar gestel het aan ‘n gesin wat bestaansboere is, nadat ‘n haelbui hul eie oes verwoes het. Hierdie gesin kon sy avo’s oes en verkoop… no strings attached.

Ek sit nou die dag by die parkeerarea van ‘n fisio terwyl ek vir my vrou in die kar wag. Hier stap ‘n man nader… ek is ‘n wit jongman, en hy ‘n swart middeljarige man. Hy ry ‘n Fortuner. Ek het al gehoor dat Fortuner’s ‘n gunsteling onder kapers is… maar die man lyk netjies aangetrek, met ‘n glimlag op sy gesig en ek probeer om my belaglike vooroordeel te keer.

“Do you maybe have a plastic bag for me?”

Terug is my paranoia. Hoekom sal die man vir my vra vir ‘n plastieksak? Sodra ek uitklim en soek gaan hy sweerlik in my kar spring en wegry! Ek loer halfhartig na my agtersitplek… wraggies lê daar ‘n plastieksak asof hy gemaak is vir hierdie oomblik! Die man verduidelik dat hy boer in die omgewing, en hy wil graag vir die fisio ‘n paar avo’s gee…in my plastieksak! Vir my moeite kry ek ook ‘n klomp avo’s. Ek voel soos ‘n wurm dat ek so in die man se goeie trou kon twyfel, en sê vir hom baie dankie vir sy vrygewigheid.

Ek het nou die dag nog ‘n klompie avo’s as geskenk gekry. Die oom wat dit vir ons gegee het, het die afgelope paar maande beide sy bene verloor as gevolg van infeksie. Hy en sy vrou het beperkte mobiliteit en moet albei deur ‘n persoon versorg word, met die beperkte hulpbronne tot hul beskikking. Ek sou vir daardie avo’s meer betaal as enige belaglike bedrag wat Woolies ooit vir hul avo’s kon vra! Maar die oom sou dit nooit aanvaar nie.

Daar is al ‘n oorvloed kos na ons huis aangedra die afgelope klompie jare; gedurende tye waar ons die grootste hartseer en ook die grootste vreugde ervaar het.

So leer genademaaltye, en ook avo’s, my dat daar baie mense is wat hul hande oopstel om die seën wat hul by die Here ontvang het, met die grootste liefde en sorg met ander te deel.

Dit maak my nederig, en ek wil ook graag meer so wees.





Commentaires


Recent Posts
bottom of page