top of page

As jou laaste dag vandag was (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 10 Maart 2023 gepubliseer


Ek luister onlangs na ‘n potgooi (podcast) van Bob Goff waar hy met ‘n vriend gesels wat al vir jare ‘n moedige stryd veg teen kanker. Die kanker het onlangs na sy vriend se brein versprei en die onkoloog het voorspel dat dié man enkele weke oor het voordat hy sou sterf.

Bob het toe besluit om sy boek op te dra aan dié vriend, maar hy verduidelik dat so ‘n huldeblyk omtrent agt maande voor die publisering van die boek ingegee moet word, en daarom het hy die huldeblyk geskryf asof sy vriend sy aardse reis klaar gestap het. Sy vriend leef nog!

Ek het hulle gesprek baie waardeer; ‘n heilige gesprek tussen twee vriende oor die onafwendbare dood van ‘n gewaardeerde vriend.

Ek is seker jy was ook al (waarskynlik vroeër in jou lewe) deel van ‘n gesprek waar die volgende vraag gevra is: “As jy geweet het vandag is jou laaste dag, wat sou jy doen?” Die meeste van ons sou dan al die lekkerste kos en ervarings in een dag probeer inpas! Die realiteit is: die meeste van ons sou nie werklik al daardie dinge doen en so baie probeer eet nie; ons sou dalk eerder doen wat betekenisvol is saam met die belangrikste mense in ons lewens.

Bob se vriend het ‘n belangrike gedagte gedeel: wanneer jy weet jou tyd op aarde is min, dan raak die klein dingetjies nóg kleiner, “don’t sweat the small stuff”. Is dit nie iets waarmee almal van ons kan vereenselwig nie? Die probleem met die klein dingetjies is dat klein dingetjies hulleself dikwels voordoen as groot dinge. Ons word dikwels deur vermomde klein dingetjies geflous! As ons terugkyk, sou ons graag al die tyd, energie en geld wat ons spandeer het aan onnodige konflik, lastige e-posse wat ons laat wakker lê het, projekte wat dringend voorgekom het en mense wat ons onnodig lank besig gehou het, wou terugvra.

Dit is juis hierdie klein dingetjies wat groot lyk, wat ons dikwels oorweldig. Dr. Julie Smith, bekende sielkundige, spreker en skrywer, gee baie goeie raad: wanneer jy oorweldig voel, verbeel jou dat jy die een is wat vir ‘n goeie vriend raad moet gee oor dié kwessie wat jou tans oorweldig. Wanneer ons ‘n bietjie meer afstand kry tussen ons en iets wat pla of ons oorweldig, kry ons soms beter helderheid. Hierdie oefening help ook om met deernis na onsself te kyk, en nie onnodig krities te wees of te veel druk op onsself te plaas nie.

Paulus gee in Efesiërs 5 waardevolle raad oor hoe ons kan kies om te lewe. Ek haal ‘n paar sinne uit The Message aan:

“Don’t waste your time on useless work, mere busywork, the barren pursuits of darkness. Expect these things for the sham they are… rip the cover off those frauds and see how attractive they look in the light of Christ… So watch your step. Use your head. Make the most of every chance you get. These are desperate times.”

Mag jy nog baie jare gegun word saam met die mense wat vir jou kosbaar is, maar moet nooit die tyd tot jou beskikking as vanselfsprekend aanvaar nie!

Σχόλια


Recent Posts
bottom of page