top of page

Al wat dit vra is 20 sekondes (JZ de Jager)

Oorspronklik 28 Oktober 2022 gepubliseer


In die tyd voordat ons Nelspruit toe getrek het, het vriende van ons vir ons ‘n boek present gegee. Min het ons daardie tyd geweet hoe baie ons nog daardie boek gaan lees. Die boek se naam is Dapper Dawie en dit gaan oor ‘n jong seun se aanpassing in sy nuwe omgewing. Die storie raak ‘n paar temas aan: van vrees vir die nuwe skool en nuwe maats maak; tot opstaan wanneer jy geval het en ook nuwe dinge probeer soos kos waarvan jy gedink het jy nie sal hou nie. Ons het die boekie baie vir ons dogtertjie gelees en nou lees ons dit ook gereeld vir ons seuntjie. Net soos wat ons maar soms hulp nodig het om deur sulke dinge te werk of om nuwe dinge te probeer, so het ons kinders dit ook nodig al kan hulle dit nie noodwendig vir ons sê nie.

Vir die laaste twee jaar was ons dogtertjie in ‘n skool waar die juffrou se groot filosofie is om kinders emosioneel gereed te kry om Graad 1 toe te kan gaan. Want sy weet dat wanneer die emosionele sy goeie aandag kry die res sommer net soveel makliker in plek kan val. En soos dit gaan by enige ander skool en met baie kinders is die aflaai van die kinders en die stap na die klas toe soms ‘n lekker uitdaging. Soms gebeur dit met trane en soms gebeur dit sonder trane, maar elke keer wanneer hulle die tog aandurf van die hekkie na die klassie en hulle oorkom die emosies dan sê sy vir hulle: “jy is ‘n dapper-stapper!” Dit is wonderlik om te sien hoe hierdie eenvoudige woorde hulle aanmoedig om dit môre en oormôre en die dag daarna weer reg te kry.

Hierdie tema van dapper wees kom ook sterk deur in die fliek We bought a Zoo wat ‘n paar jaar gelede uitgekom het. In die fliek sê Benjamin Mee: “You know, sometimes all you need is twenty seconds of insane courage. Just literally twenty seconds of just embarrassing bravery. And I promise you, something great will come of it.”

‘n Mens kan nou maklik dink dat dit ‘n waarde is wat die wêreld wil hê elkeen van ons moet hê, maar eintlik lees ons al vroeg in die Bybel dat dit vir elkeen van ons ‘n opdrag is. As mens die verhaal gaan lees van Josua wat die rol van leier oorneem by Moses dan hoor mens hoe Moses hom aanmoedig om dapper te wees in die tyd wat vir hom voorlê (Deut. 31). Die Here gee ook self vir Josua die opdrag om dapper en vol moed te wees in Josua 1. Josua is opgeroep om dapper en vol moed te wees sodat hy sal kan hou by die dinge wat vir God belangrik was.

Ek wil jou ook uitdaag om dapper en vol moed te wees om God te vertrou om die regte dinge te doen.

Ek praat van iets soos die waarheid praat. Want dit vra moed en dapperheid om dit te doen.

Ek praat van iets soos om vir hulp te vra. Want dit vra moed en dapperheid om te erken as jy self nie meer kan nie.

Ek praat van liefde leef teenoor iemand wat die res van die samelewing afgeskryf het. Want dit vra moed en dapperheid om dit te doen.

Ek praat van die proses om die man of vrou te word waarvoor God ons geroep het om te wees. Want om dit te word vra moed en dapperheid.

Ek bid vandag vir jou om 20 sekondes van groot waagmoed en dapperheid te hê om te gaan doen wat die Here wil hê jy moet doen.

Comments


Recent Posts
bottom of page