top of page

Agter wat hardloop jy aan? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 7 Januarie 2022 gepubliseer


Skuins na Kersfees gaan draf ek ‘n ent in ‘n klein dorpie. Vir die eerste keer in ‘n baie, baie lang tyd, kies twee verskillende groepe kinders op my roete om ‘n stukkie saam met my te draf!

Dit is een van die redes waarom ek dit baie geniet om kontak met tieners te hê. Tieners toets grense; hulle vra nie toestemming vir elke ding nie, hul is bereid om dinge te doen wat nie die status quo volg nie. Dit is natuurlik ook presies dieselfde redes waarom sommige ouers meen hul tieners dryf hul teen die mure uit!

Hierdie spontane, hardlopende kinders het my laat dink aan die dinge wat mense bereid is om agterna te hardloop. Waarom bly ons sit, wanneer ons dikwels oorgenoeg rede het om agter ‘n goeie saak, deug, karaktertrek of droom aan te hardloop?

Erwin McManus skryf in sy uitstekende boek, 'The Last Arrow', dat ons al die passie in die wêreld vir iets kan hê, maar dit gaan ons nie noodwendig beweeg nie. Wat ons in beweging bring, is die dringendheid, die 'urgency' wat met die passie gepaard gaan.

Miskien moet ons meer begin vra: as daar rondom hierdie ding wat vir my so belangrik is, niks gaan gebeur of verander nie, wat sal die effek of die koste daarvan wees?

Dit is weer ‘n nuwe jaar. Of jy dit geniet om ‘n paar nuwe voornemens te bedink of nie, die meeste van ons kyk met ‘n bepaalde verwagting vorentoe aan die begin van ‘n jaar.

Ek wil graag myself herinner om hierdie jaar elke nou en dan die volgende vrae te vra:

- Wat is die dinge wat ek met dringendheid agterna wil hardloop hierdie jaar?

- As hierdie bogenoemde ding(e) vir my so belangrik is, wat is die praktiese stappe wat ek gaan moet kies? Waarvoor vertrou ek die Here?

- Wat is die dinge wat ek soms, soos ‘n hondjie wat ‘n kar se wiel jaag, agterna hardloop wat geen wesenlike doel dien nie?

- As hierdie bogenoemde ding(e) nie ‘n wesenlike doel dien nie, wat is die praktiese stappe wat ek gaan moet kies om dit nié te volg nie? Waarvoor vertrou ek die Here?

Mag jy met die nodige wysheid kies om die regte dinge met dringendheid na te jaag. Ons het die afgelope ruk mooi geleer dat ons niks as die norm moet aanvaar nie. Wie weet, dalk kies ander mense om saam met jou te hardloop!

Comments


Recent Posts
bottom of page