top of page

Hoe reageer kinders van die Here in krisistye?


Die wêreld is in rep en roer oor die Koronavirus. Ons eie land het streng maatreëls aangekondig om die verspreiding van die virus so goed as moontlik te probeer stopsit. ‘n Mens moet krediet gee waar dit nodig is: President Ramaphosa en sy kabinet het tot dusver hul baie goed van hul taak gekwyt om ons landsburgers op hoogte van sake en ingelig te hou.

Daar is so baie opinies en boodskappe rondom die virus. Suid-Afrikaners het, soos altyd, nie op hul laat wag om hul sin vir humor in te span om die spanning te verlig nie!

Die volgende paar woorde is ‘n oordenking oor hoe ons as kinders van die Here reageer in tye wanneer ons voor ‘n krisis te staan kom. Ons is nie seker wat die impak van hierdie virus op ons eie land en haar mense kan hê nie. Een ding sien ons wel reeds raak: die wêreld, en ons eie ekonomie maak bokspringe, en dit gaan waarskynlik ons elkeen ekonomies raak; veral mense wat reeds finansieel swaar trek.

Die Nuwe Testament het elkeen van ons wat die Woord as rigsnoer vir ons lewe volg, alreeds voorberei vir enige krisistyd wat ons ooit in die gesig mag staar. Jesus herinner ons dat ons nie gevrywaar is van swaarkry nie (Johannes 16:33), Paulus sê vir ons dat ons met oop geloofsoë in hierdie wêreld moet leef, wetend dat ons hoop nie gevestig is op ons aardse lewe nie (2 Kor. 4:16-18). Ons klou nie aan ons aardse voortbestaan vas asof dit die begin en die einde van ons lewe is nie. Inteendeel! Ons hoef nie die dood te vrees nie (1 Kor. 15:54-55).

Die lewe van Jesus is vir ons ‘n bloudruk van hoe ons kan en wil leef in uitdagende tye. Is dit tog nie hoekom ons Christene genoem word nie: mense wat die weg en woorde van Jesus navolg? Ek vind dit moeilik om te glo dat Jesus in hierdie tyd vir homself soveel as moontlik seep en toiletpapier sou opgaar ten koste van ander!

Nee, Christene (of mense van die weg, soos wat hul vroeër bekend was) is in die tyd van die vroeë kerk gekenmerk vir hul omgee vir die sterwendes en verswaktes; veral in tye wat epidemies verwoesting gesaai het. Daar is selfs verwysing na ‘n brief wat Keiser Julianus in 362 nC geskryf het, waar hy die heidene aanmoedig om die voorbeeld van die Christene te volg. Hy skryf onder andere: “…dit is ‘n skande teenoor die heidene dat die Galileëers (Christene) nie net hul eie mense nie, maar ook ons eie mense versorg en ondersteun…” (vrye vertaling).

Wanneer volgelinge van Jesus sy weg volg, dan leef ons as selflose mense… mense wat uitkyk vir die mense rondom ons; veral die verswaktes en die weerloses. Natuurlik beteken dit nie in vandag se tyd van mediese tegnologie en sorg dat ons onsself doelbewus moet besmet nie! Dalk beteken dit juis dat ons alles in ons vermoë sal doen om die mees weerloses vir die koronavirus (mense ouer as 60 en persone met mediese toestande) te beskerm so goed soos ons kan.

In ons land, waar talle mense afhanklik is van publieke vervoer, kan ons ook sensitief wees vir hierdie mense wat saam met ons, of in ons huise werk. Indien jy dit oorweeg om jou werkers aan te raai om eerder tuis te bly, doen die menslike ding deur hul te vergoed in die tyd wat hul nie kan werk nie. Bemagtig mense wat nie soveel toegang tot inligting het soos jy nie. Maak seker dat hul ook genoeg seep en handreiniger het; iets wat hul begroting definitief nie voor beplan het nie!

As volgelinge van Jesus het ons ‘n unieke geleentheid om vir ons gemeenskappe voor te leef hoe om in ‘n krisistyd te leef. Ons saai nie paniek nie, ons ondersoek ons eie harte en maak seker dat ons met die regte perspektief leef. Ons is wel ook nie naïef nie; my eie naïwiteit kan tot nadeel van ander wees. En alhoewel ons dalk kies om onsself sosiaal van groter groepe te distansieer, reik ons uit op kreatiewe maniere na ander.

Viktor Frankl, ‘n neuroloog en psigiater, het tydens die tweede wêreldoorlog geleef. Saam met talle ander is hy na Auschwitz geneem, waar talle van sy familie (onder andere sy vrou, ma en pa) gesterf het. Frankl het oorleef. In sy wêreldberoemde boek Man’s search for meaning, skryf hy dat die mens nie werklik kan leef sonder betekenis nie. Hy het dit eerstehands in die konsentrasiekamp beleef. Hoop is aansteeklik, en sodra mense in die konsentrasiekamp hoop verloor het, was dit vir hul bitter moeilik om te oorleef.

Frankl skryf dat betekenis geskep word op drie maniere:

  • deur ‘n daad te doen of iets te skep

  • om iets te beleef of iemand te ontmoet

  • ons benadering teenoor lyding

Frankl het in ‘n totaal anderse tyd geleef. Maar sy woorde kan vandag ook vir ons waardevol wees.

Mag jy in hiedie onseker tyd wat voorlê met onderskeidingsvermoë leef, mag jy met ‘n oop hand en gemoed teenoor ander optree en mag jy betekenisvol leef.

Recent Posts
bottom of page