top of page

Sien jy die groter prentjie?

Elkeen van ons raak soms moedeloos. Moedeloosheid gebeur wanneer ek na die prentjie of uitsig voor my kyk, en nie regtig kan sien hoe hierdie prentjie ooit weer anders gaan begin lyk nie. Ons almal ken die gevoel…

My huweliksprentjie lyk nie meer so rooskleurig nie… ek begin al hoe meer te wonder of my kinders dit gaan maak… my tiener-kind hou my op my knieë… my werksmense frustreer my… my vriende irriteer my, ek is in ‘n konstante innerlike stryd.

Ons almal het ‘n groter-prentjie-perspektief nodig. Dis rus vir ons siel om te onthou dat wat ek tans met my beperkte visie kan sien, nie die volle of voltooide prentjie is nie.

‘n Uitdaging wat nou sterk op die voorgrond is, pas in ‘n groter perspektief. As dissipline tans vir jou ‘n uitdaging in jou huis is, wat is die groter dissipline-prentjie? Hoe moet die finale produk lyk? Om nie vasgevang te raak in ‘n huidige krisis of uitdaging nie, met die groter prentjie in ons visie, bied ons die moontlikheid om pro-aktief te werk te gaan; om nie net te reageer op dit wat ek tans voor my sien nie.

Vra maar vir Eskom; om ‘n langtermyn, oorkoepelende visie te hê vra deurlopende werk en instandhouding. Hoe lyk jou oorkoepelende visie? Kom ons dink byvoorbeeld aan ‘n groot dissipline-prentjie. Dit is baie meer effektief om pro-aktief merkers neer te lê, soos roetine, grense, respek, om karakter te bou, om selfloosheid te modelleer…as wat dit is om gedrag te probeer korrigeer. Daarvoor het ons ‘n groot prentjie nodig. En ons kinders moet ook die prentjie ken en raaksien.

Wat is nog ‘n voordeel van ‘n groter prentjie, veral wanneer ons moedeloos raak? Dit is goed om te besef dat elkeen van ons saam in een groter prentjie inpas. Wanneer ons saam met die Here die pad stap en bid dat Sy Koninkryk moet kom en dat Sy wil moet geskied, dan is ons groot prentjie eintlik dieselfde. Dan is my eie lewe met sy uitdagings nie die begin en einde van die wêreld nie.

Ons behoort aan die Eienaar van die groot prent. Ons kan Hom vertrou.

Recent Posts
bottom of page